Wednesday, 28 May 2008

Wernich-moorde: Verdagte in arres

Mev. Rita Wernich (69) en haar man, Ludwig (76).

May 27 2008 10:11:00:230PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

mlouw1@beeld.com

Polokwane (Pietersburg). – Die vermeende moordenaar van die bejaarde Wernich-egpaar van Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo sit agter tralies.

Mnr. Frans Thabo Motswi (30) van Ga-Rankuwa, noordwes van Pretoria, is die naweek deur die Limpopo-polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad in hegtenis geneem.

Hy het eergister vlugtig in die Mokopane-landdroshof verskyn.

Hy is nie gevra om te pleit nie.

Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, een van diefstal en een van huisbraak met die opset om te roof.

Mnr. Ludwig Wernich (76) en sy vrou, Rita (69), is in Februarie in hul woonstel in die Piet Potgieter Monument-ouetehuis in Mokopane vermoor.

Hul motor, juwele en bankkaarte is onder meer gesteel.

Die lykskouing het aangedui dat albei versmoor het. Die egpaar was sieklik en swak.

Mev. Wernich het met ’n loopraam geloop en mnr. Wernich moes suurstof gebruik om makliker asem te haal.

Die polisie het kort ná die moorde mnr. Frederick Johannes Coetzer (33), ’n nutsman van Mpumalanga, in hegtenis geneem weens die moorde. Inwoners van die ouetehuis het ook gesê ’n Afrikaanssprekende man het geld vir liefdadigheid ingesamel op die dag van die moorde.

Coetzer is ná ’n week in polisie-aanhouding weens ’n gebrek aan bewyse vrygelaat.

Die egpaar se kinders was hewig ontsteld omdat die ondersoek so gesloer het. Mev. Hantie Malan, ’n dogter, het gister gesê sy is bly iemand is in hegtenis geneem. “Ek wil egter nie te gou opgewonde raak nie. Ons moet eers sien of dit die regte man is.”

Insp. Lindie Johannsen, ondersoekbeampte, het gesê die polisie het intussen ook die Wernichs se gesteelde groen Volkswagen Jetta teruggevind. Sy wou egter nie uitbrei oor waar die motor gevind is nie.

Die verdagte sal volgende Woensdag in die Mokopane-landdroshof om borgtog aansoek doen.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2330121,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.