Tuesday, 10 June 2008

Boer leef in vrees nadat hy rowers in sy huis skiet

Die kamerdeur waarvan die rowers die slot met 'n skroewedraaier probeer oopbreek het en die koeëlgat (by die pyltjie) waardeur 'n enkele skoot albei rowers getref het.

07/06/2008 20:03 - (SA)

Erna van Wyk

Delareyville

’n Jong boer wat van moord aangekla word nadat hy twee rowers met ’n enkele skoot deur sy toe slaapkamerdeur geskiet het, lewe in vrees nadat die vakverbond Cosatu dit as nog ’n rassevoorval bestempel het.

Mnr. Jaco Swart (26) het ’n enkele skoot deur die toegesluite kamerdeur geskiet wat die een rower noodlottig getref en sy 33-jarige makker gewond het.

Cosatu se provinsiale sekretaris in Noordwes, mnr. Solly Phetoe, het dit daarna as “ ’n rassistiese moord” veroordeel.

Phetoe het in ’n verklaring gesê Swart het “twee plaaswerkers doodgemaak”. Hy het gesê Swart het werkers op 16 Mei 2008 doodgeskiet en is nog nie in hegtenis geneem nie.

In werklikheid het net een rower gesterf.

AfriForum in Noordwes het ’n klag van haatspraak teen Phetoe by die Menseregtekommissie ingedien. Hul woordvoerder, mnr. Nantes Kelder, sê die polisie het onder politieke druk geswig deur Swart in hegtenis te neem. Hy is vier dae ná die voorval aangekla van moord en poging tot moord.

Kelder vertel Swart was alleen in sy huis en het die Vrydag omstreeks 02:00 wakker geword toe hy ’n gewerskaf aan sy kamerdeur hoor. Die deur was gesluit.

Later is vasgestel dat die rowers toe al elektriese ware uit die huis gedra het. Hulle het ook eers twee biere onder ’n boom sowat ’n 100 m van die huis af gaan drink. Toe is hulle terug in die huis in om die slot van die slaapkamerdeur met ’n skroewedraaier te probeer oopdwing.

Swart het sy ouers gebel, wat die polisie gebel het. Kelder sê die jong boer het uit selfverdediging geskiet. Die polisie het later op die dooie rower in die gang afgekom met ’n deel van die deur se handvatsel in sy hand vasgeklem.

Kelder sê ná die aanvanklike forensiese ondersoeke het die polisie gesê Swart hét uit selfverdediging opgetree. Maar binne dae het Phetoe die voorval ’n rassekleur gegee en Jaco is in hegtenis geneem.

“Hoe kon dit ’n rassistiese moord gewees het? Jaco kon nie agter ’n toe deur sien watter kleur die rowers is nie. Al wat hy geweet het, is dat hulle besig was om in sy kamer te probeer inkom – en hom dan beslis sou aanval,” sê Kelder.

Mnr. Jaap Swart het die afgelope week aan Rapport gesê die vrede is uit sy gesin se lewe geruk weens die aanslag op sy seun.

“ ’n Onskuldige persoon het hom uit noodweer verdedig uit vrees dat hy sou sterf.

“Ons is nie rassiste nie. Jaco het uitstekende verhoudings met sy werkers. Sy huishulp het in trane uitgebars toe sy die oggend by die huis aankom en sien wat gebeur het,” sê Swart.

Hy en sy seun is nou “gemerk” en het al verskeie doodsdreigemente ontvang.

Swart moet weer op 26 Augustus in die hof verskyn.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2336623,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.