Monday, 16 June 2008

Kapers brand kar met man in

Mnr. Tony Goble (58) wys na sy uitgebrande motor waaruit hy rakelings ontsnap het nadat kapers dit met hom in die kattebak aan die brand gesteek het. (Foto: Gerhard de Bruin)

14/06/2008 20:53 - (SA)

Gerhard de bruin

Bergville

’n 58-jarige boer van Bergville in KwaZulu-Natal het aan ’n vlammedood in die kattebak van sy gekaapte motor ontkom deur net betyds daarin te slaag om te ontsnap.

“Die geknetter van die vlamme en die reuk van die rook sal ek nooit vergeet nie. Ek het paniekbevange aan die kattebak geskop en gebid: asseblief, Here, help my dat ek nie vandag hier doodbrand nie. Met ’n wonderwerk kry ek dit toe oop.”

Só vertel mnr. Tony Goble van die plaas Hartebeesfontein naby Bergville nadat hy verlede Vrydag op pad plaas toe deur booswigte oorval en in die kattebak van sy motor toegesluit is.

Goble sê hy was laatnag van die dorp na sy plaas onderweg toe hy deur ses mans by sy plaasopstal oorval en bewusteloos geslaan is.

Toe hy bykom, was hy in die kattebak toegesluit en hy het besef dat sy kapers in die voertuig ry.

Goble het toe desperaat probeer om die kattebak se slot oop te kry. Hy het dit ná ’n gesukkel reggekry, maar makkers van die kapers, wat in Goble se bakkie agter die gekaapte voertuig gery het, het gesien hoe die kattebak oopgaan. Hulle het die kapers laat stilhou en die kattebak toegedruk.

Die kapers het sowat 40 km buite Harrismith stilgehou.

Goble sê die mans het ’n rukkie buite gesels voordat hulle in sy bakkie weggery het.

“Oomblikke later het ek die geknetter van vlamme gehoor. Ek het paniekbevange besef hulle het die motor aan die brand gesteek.”

Goble sê hy het in die donker desperaat aan die kattebak se ou slot begin woel. Hy kon dit net betyds oopkry voordat die vlamme hom bereik het.

Hy sê sy grootste vrees was dat van die kapers moontlik nog langs die motor gewag het.

’n Minibustaxi wat die brand gesien het, het intussen op die toneel stilgehou.

Die insittendes het hom te hulp gesnel en die bestuurder het hom na ’n kliniek in die omgewing geneem.

Hy is vir kopbeserings en vier uit tande behandel.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2340789,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.