Monday, 30 June 2008

Man sê wie 'moordenaar' is - en sterf

Jun 29 2008 09:30:54:470PM - (SA)

Hilda Fourie

’n Man van Cullinan se laaste woorde, voordat hy voor sy vrou en dogtertjie dood is, was die naam van sy vermeende moordenaar.

Mnr. Johannes Jaftha, polisiewoordvoerder, het gesê mnr. André Masset (57), ’n kunstenaar, is eergisteraand omstreeks 23:00 op sy kleinhoewe buite Cullinan doodgeskiet.

Sy vermeende moordenaar, ’n 28-jarige werker van ’n naburige plaas, is sowat twee uur later in hegtenis geneem.

Volgens Jaftha was Masset besig om in die een huis op die kleinhoewe te werk.

Sy vrou, Lianne Cox (38), en hul vyfjarige dogtertjie het in die ander huis op die kleinhoewe ’n DVD gekyk.

Dié twee huise is glo naby aan mekaar geleë.

“Ons is nog nie baie seker wat gebeur het nie, maar die vrou het vertel dat sy omstreeks 23:00 ’n skoot gehoor het,” het Jaftha gesê.

“Sy het by die venster uitgekyk, maar niks gesien nie.

“Masset het by die huis (waar sy vrou was) ingestruikel en vir sy vrou die naam gesê van wie moontlik die verdagte kan wees.

“Hy het toe voor sy vrou en dogtertjie beswyk,” het Jaftha gesê.

Masset is in die kakebeen geskiet en is op die toneel dood.

Jaftha het gesê Masset het die plaaswerker geken. Die verdagte het glo Masset se honde geken.

Daar was nie tekens van gedwonge toegang tot die erf of die huis nie.

’n Moordsaak word ondersoek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2349237,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.