Tuesday, 24 June 2008

Man skiet rower in sy huis dood

Jun 23 2008 09:02:10:340PM - (SA)

Alta Snyman

Rustenburg. – ’n Sakeman van dié stad het ’n vermeende rower doodgeskiet en nog een ernstig gewond toe hy hulle op heterdaad in sy huis betrap het nadat hulle sy dogters en die huiswerker oorval en vasgebind het.

Mnr. Neels Bouwer (43) van Weaverlaan, Safarituine, het gister omstreeks 10:00 gou huis toe gegaan om te kyk of herstelwerk by ’n buurhuis gedoen is nadat diewe Sondag daar ingebreek het. Die bure is met vakansie in Namibië.

“Ek het met mnr. Jac Meyer, ’n ander buurman, gepraat en het toe gou huis toe geloop om my kinders te gaan groet.

“Ek het die voordeur oopgesluit en na die kinders geroep, maar dit was doodstil. Ek is baie streng daaroor dat hulle nie mag buite speel wanneer ek en my vrou nie tuis is nie. Toe ek regs in die gang afkyk, sien ek ’n vreemde mens. Ek het na my bakkie gehardloop en my vuurwapen gaan haal. My eerste gedagte was my kinders.”

Terug in die huis het hy gesien ’n man spring by die een kinderkamer in en probeer die deur toedruk. Hy het die deur oopgestamp. In die stoeiery is ’n paar skote afgevuur en ’n man is gewond.

Een van die verdagtes het uit die ander kinderkamer die gang afgestorm.

Bouwer het hom uiteindelik by die kombuis vasgekeer, maar is in die gesig geslaan. ’n Skoot is afgevuur en die aanvaller is gewond. Die derde aanvaller het Bouwer van agter met ’n mes aangeval. Hy het vyf steekwonde in sy nek en kop opgedoen waarvoor hy ongeveer 30 steke moes kry. Hy is ná behandeling uit die hospitaal ontslaan.

Die verdagte het by die agterdeur beswyk.

Mnr. Jac Meyer, die buurman met wie Bouwer kort tevore in die straat gepraat het, het die skote gehoor klap en sy vrou, Annette, het die veiligheidsmaatskappy ARS en die polisie gebel. ARS het mev. Michelle Bouwer gebel en self na die huis gegaan.

Die gewonde aanvaller en sy makker het gevlug, maar die polisie se honde-eenheid het die gewonde man later enkele blokke van die Bouwer-huis af gekry waar hy in die straat gelê het. Hy is onder polisiebewaking in die Paul Kruger-gedenkhospitaal en sy toestand is ernstig. Mnr. Mike de Kock, vennoot van mnr. Bouwer, was een van die eerste mense op die toneel. Hy sê die twee Bouwer-meisies, onderskeidelik ses jaar en nege jaar oud, was saam met die huishulp, me. Virginia Tlhamage (48), vasgemaak. Tlhamage kon haarself loswikkel en was besig om die kinders los te maak toe hy daar kom. Hul monde was ook toegeplak. Die rowers het Tlhamage buite die huis oorval toe sy die agterdeur wou oopsluit om in te gaan nadat sy wasgoed opgehang het.

“Toe Neels by die huis kom nadat hy ontslaan is, het hy vir Virginia met trane in sy oë dankie gesê dat sy kinders veilig is,” het De Kock gesê. Hy en Meyer het die polisie en veiligheidsmaatskappy geloof vir hul blitsige reaksie.

Kapt. Elsabe Augoustides, polisiewoordvoerder, het gesê klagte van moord en poging tot moord word teen Bouwer ondersoek en klagte van poging tot moord en gewapende roof teen die twee vermeende aanvallers. Die derde aanvaller was teen druktyd nog op vrye voet. Enige inligting oor die inbraak kan aan speurinsp. Dirk Smit, die ondersoekbeampte, by 082 496 9630 gegee word.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2345737,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.