Tuesday, 10 June 2008

Man sterf en rowers weg met selfoon

07/06/2008 20:03 - (SA)

Willem Pelser

Pretoria

’n Man van Wonderboom-Suid in Pretoria het gisteroggend vermoedelik versmoor nadat rowers hom vasgebind en ’n kledingstuk in sy mond gedruk het.

Mnr. J.J. Joubert en sy vrou is omstreeks 04:00 deur rowers in hul slaapkamer oorval terwyl hulle geslaap het. Sy vrou is ook vasgebind.

Me. Mirna von Benecke, ’n polisiewoordvoerder in Pretoria, sê die rowers het die vrou aangerand en wou weet waar geld en vuurwapens in die huis gehou word.

Die rowers het later talle huishoudelike goedere uit die huis uitgedra en in die egpaar se voertuig gelaai.

Die polisie vermoed die rowers het dalk vir iets geskrik, want hulle het sonder die voertuig en die geroofde goedere gevlug.

Joubert se vrou het hard om hulp geroep toe sy sien die rowers is weg. Die bure het haar kom help en die polisie gebel.

Von Benecke sê die vrou is baie getraumatiseerd.

In dié stadium word net die egpaar se selfoon vermis.

Volgens Von Benecke het die rowers deur ’n venster toegang tot die huis verkry. Sy sê egter dit is onseker of die venster gebreek is en of dit oop was.

Von Benecke wou nie gister die egpaar se name bekend maak nie omdat daar moontlik familielede is wat nog nie van die moord weet nie.

Oorsprong:Raport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2336674,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.