Monday, 23 June 2008

Pa skiet rower in polisieklere in huis dood

Jun 22 2008 08:40:36:710PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Pa van Heuweloord in Centurion het ’n gewapende rower, geklee in ’n koeëlvaste en glimbaadjie van die polisie, tydens ’n tweede gewapende aanval op sy gesin en huis doodgeskiet.

Dié 36-jarige pa het tydens die “klein oorlog” nóg twee gewapende rowers, wat glo ook koeëlvaste baadjies gedra het, raakgeskiet. Die gesin wil om veiligheidsredes nie geïdentifiseer word nie.

Dié aanval waarin sowat nege aanvallers die veiligheidshek met ’n breekyster oopgebreek en hul voordeur oopgekap het, het Saterdagoggend om 05:30 in Spekhoutstraat plaasgevind.

Die 28-jarige vrou en hul drie kinders (onderskeidelik 5 en 2 jaar en 8 maande oud) het saam met haar skoonma en swaer in die hoofslaapkamer gaan skuil terwyl die pa en rowers op mekaar geskiet het.

Die man het gesê hy het wakker geskrik toe hy sy broer hoor skreeu het: “hulle breek in”.

Die rowers was toe nog besig om die voordeur oop te breek. “Ek het opgespring, my vuurwapen gegryp en na die voordeur gehardloop. Die eerste rower het in die halfoop deur gestaan en skreeu hy is van die polisie en toe begin die ou agter hom skiet.

“Ek het teruggeskiet en die eerste ou in die kop geskiet. Ek het ’n tweede ou in die bors geskiet en nog ’n ander rower iewers op die lyf.

“Hul vriende het hulle opgetel en gevlug.

“Ek is amper seker hulle het koeëlvaste baadjies aangehad want daar was geen bloedspoor op ons erf of buite nie. Ek weet egter vir ’n feit ek het hulle ook raakgeskiet,” het die man gesê.

Hy het net ses koeëls in sy vuurwapen gehad en het terug na sy kamer toe gehardloop om nog koeëls te kry toe die aanvallers gevlug het.

Vrydagaand het mense in ’n swart Golf sonder nommerplate by die huiswerker navraag gedoen. Om 20:00 het die vrou ’n wit Chrysler Voyager naby hul huis gesien en toe sy ondersoek ingestel het, het dit weggery.

“Die aand van die aanval het die rowers in dieselfde twee voertuie gevlug,” het sy gesê.

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek die moontlikheid dat die oorledene ’n polisieman of ’n polisiereservis was.

Sy het ook gesê die vuurwapens wat by die verdagte gekry is, lyk soos polisiedienspistole en dat die reeksnommers afgevyl is.

Volgens mnr. Mark Stokoe, woordvoerder van Netcare911, is R4-, 9mm- en .22- asook haelgeweer-patroondoppies op die toneel opgetel.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2345054,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.