Monday, 16 June 2008

Parate gesin laat rower sy moses tee kom

Mnr. Hendrik 'Nols' Vermaak (48) is in die regterarm gewond. Foto: Arisja Jacobs

Jun 15 2008 08:49:53:010PM - (SA)

Buks Viljoen

’n Vyftienjarige seun van Secunda het waarskynlik Vrydagaand sy ma se lewe gered toe hy haar uit die pad van ’n rower se koeël gestamp het.

Ryno Vermaak is in die boud geskiet.

Net so gelukkig as wat Vrydag die 13de vir me. Mariaan Vermaak (43) was, net so ongelukkig was dit vir die rower. Hy het nie rekening gehou met die paraatheid van die Vermaak-gesin nie en sy moses deeglik teëgekom.

Volgens mnr. Hendrik (Nols) Vermaak (48) het die gesin en Ryno se maat Charl Swanepoel (15) die dag omstreeks 19:30 in die lapa van hul huis in Matroosbergstraat vleis gebraai.

“Die volgende oomblik het ’n gewapende rower uit die donker verskyn,” het Vermaak gister vertel.

“Ek kon sien hy was nou nie juis ’n professionele rower nie, want hy was baie onhandig met die pistool.

“Die rower het gesê: ‘I demand money.’ Toe sê hy ek moet op die grond gaan lê. Ek het op hom geskreeu ek kan nie op die grond lê én vir hom geld gaan haal nie.”

In ’n stadium het die rower sy wapen op me. Vermaak gerig. Ryno het haar agter die kroegtoonbank ingestamp, waarna ’n skoot geklap het en Ryno is in die boud getref.

“Sy dapper optrede het beslis my lewe gered,” het me. Vermaak gistermiddag aan Beeld gesê.

Mnr. Vermaak het op die rower afgestorm. In die stoeiery het die rower twee skote geskiet. Vermaak is in die regterarm getref.

Intussen het me. Vermaak daarin geslaag om pepersproei in die rower se oë te spuit.

“Ek was woedend. Maar ons kon daarin slaag om hom plat te slaan en te oorrompel. Wat kommerwekkend is, is dat my huis baie veilig is. Daar is veiligheidsheinings reg rondom die erf.

“Hoe hy ingekom het, weet ons nie.”

Me. Vermaak het hulp ontbied en hulle het die man aangehou totdat die polisie opgedaag het.

Ryno is ná behandeling uit die hospitaal ontslaan. Mnr. Vermaak is opgeneem en eergister ontslaan.

Bure van die Vermaaks het gesien hoe drie van die bendelede weghardloop toe die skote begin klap.

Die polisie het op ’n 9 mm-Norinco-pistool beslag gelê wat in die rooftog gebruik is. Daar is vasgestel die wapen is in 1995 in Johannesburg gesteel.

Met die inhegtenisneming van die rower is ’n vier dae lange veldtog van rooftogte in dieselfde omgewing gestuit. Kapt. Busaphi Sibanyoni, woordvoerder van die polisie in Secunda, het gesê die bende was sedert Dinsdag elke dag in Sunsetpark, Kosmospark en Sonheuwel in rooftogte betrokke.

Die drie wat gevlug het, is steeds soek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2341156,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.