Thursday, 5 June 2008

Só is onskuldige man in sel verkrag

Jun 04 2008 10:15:58:173PM - (SA)

Liela Magnus

’n Man (52) het gister in die Pretoriase hooggeregshof gesnik terwyl hy vertel het hoe medegevangenes in ’n aanhoudingsel hom verkrag het.

Dié diabeet van Primrose, Germiston, eis nou R4,3 miljoen skadevergoeding van die minister van veiligheid en sekuriteit en die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling.

Hy beweer hy is twee keer onwettig in hegtenis geneem en ná die tweede arrestasie in die polisieselle verkrag.

Die man het getuig hoe hy op 28 Februarie by die landdroshof in Witbank gearresteer is toe hy ’n afskrif van sy klagstaat wou gaan haal.

Volgens hom is hy saam met sowat 30 medegevangenes in die aanhoudingselle by die Witbank-polisiekantoor aangehou.

Hy het vertel hoe vier mans hom die aand kaal in die sel rondgedra het terwyl die res dans en sing. Die hof moes verdaag voordat die emosionele man verder kon getuig. “Die dreunsang en voetestamp het harder geword,” het hy gesê.

Hy het beskryf hoe van die gevangenes een van die “groen matrasse” in die sel in die lengte opgerol het en voor hom gesit het. Daarna moes hy handeviervoet oor die opgerolde matras kniel.

“Die intensiteit van die sang en dans het klimaks bereik.”

Die mans het hom begin verkrag. “Ek moes tóé my bewussyn verloor het. Toe ek bykom, was hulle steeds besig.”

Hulle het later opgehou en hom toe geïgnoreer vir die res van die twee dae wat hy nog saam met hulle in dieselfde sel toegesluit was.

In dié twee dae is hy na die hof geneem waar borgtog van R1 000 aan hom toegestaan is.

Hy kon eers ’n dag nadat hy by die hof was, iemand bel om die geld te bring.

Hy moes ook hospitaal toe geneem word omdat hy tydens sy aanhouding nie sy diabetesmedisyne gekry het nie. Die man het gesê hy het die dokter gevra om hom op te neem omdat hy bang was om na die sel terug te gaan. Hy het nie vir die dokter of polisielede gesê wat gebeur het nie.

’n Vriend het sy borgtog kom betaal, die saak teen hom is teruggetrek en die geld terugbetaal.

Die saak gaan voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2334906,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.