Saturday, 28 June 2008

Sakeman in hart geskiet



Jun 27 2008 09:21:29:537PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – ’n Bekende sakeman van dié stad is koelbloedig in sy huis vermoor toe ’n rower hom in die hart geskiet het.

Mnr. Piet Venter (56), eienaar van Venter-Bore en PFC-Freight Transport, is eergisteraand op slag dood. Sy vrou, Wilma (54), is in die regterbeen geskiet toe twee mans hulle in hul huis op die hoek van Erasmus- en McDonaldstraat in Florapark oorval het.

Kort voor dié aanval het vermoedelik dieselfde twee rowers ’n 38-jarige vrou twee strate verder in haar huis verkrag.

Dié gebied, naby die Savannah-winkelsentrum, is verlede jaar ook deur misdaad geruk toe mnr. Peter Cassidy, ’n joernalis, in McDonaldstraat in sy huis vermoor is.

Die polisie het teen druktyd ’n 36-jarige man vir ondervraging in verband met albei voorvalle aangehou.

Venter se seun, André, het gister geskok buite die huis gesê: “ ’n Mens is nêrens meer veilig nie. ’n Ou dink dit kan nie met jou gebeur nie . . . dan is dit net so verby.”

Die Venters is omstreeks 23:00 in hul slaapkamer oorval nadat die rowers ’n skuifdeur oopgebreek het. Hulle het pistole gehad, geld geëis en gevra waar die kluis is.

Mnr. Dirk du Plooy, hul skoonseun, het gesê die rowers het die egpaar uit die bed gedwing om te gaan wys waar die kluis is. Die egpaar het in ’n spaarkamer geglip en probeer wegkruip. “Die rowers het toe gesê hulle moet uitkom, anders skiet hulle my ouma.”

Mev. Poppie Goosen (90), mev. Venter se ma, het in ’n ander kamer geslaap. Sy het van Louis Trichardt by hulle gekuier.

Du Plooy sê die egpaar het uit die spaarkamer gekom en die rowers het sy skoonma in die regterbobeen geskiet. Mnr. Venter het die rowers na die opwaskamer gelei, waar hy ’n deur wat na die motorhuis lei, oopgesluit het. “My skoonpa wou hulle in die motorhuis toesluit. Hy het die deur oopgesluit, omgedraai en toe begin hulle te skiet.” het hy gesê.

Mnr. Venter het daarin geslaag om sy vrou uit die pad te stamp. Twee skote het die wasmasjien getref, een het mnr. Venter in sy linkerhand getref en nog een in die hart. Hy is op slag dood. “My skoonma het gegil en die twee rowers het weggehardloop.” Sy is ongedeerd.

Die rowers het met drie selfone en ’n handsak met R80 en bankkaarte daarin gevlug. Hulle het nooit by die kluis, wat in die hoofslaapkamer is, uitgekom nie.

Mev. Venter het die nooddienste en familielede gebel.

Insp. Lesiba Ramoshaba, polisiewoordvoerder, het gesê dieselfde twee rowers het vermoedelik om 20:00 eergisteraand ’n 38-jarige vrou in Bekkerstraat verkrag, en geld en juwele gesteel.

Venter jr. het gister gesê dit is presies ’n jaar en twee dae gelede dat sy broer, Gustav (33), doodgeskok is in ’n ongeluk met boortoerusting op ’n hoewe buite Polokwane.

Mev. Venter het gister by haar huis aangesterk. “Sy is baie geskok en emosioneel,” het Venter jr. gesê.

Enigiemand met inligting kan die Polokwane-polisie bel by 015 290 6620.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2348424,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.