Monday, 16 June 2008

Skilderye vertel van plaasmoorde en verval

Pauline Gutter by "Their last supper, unfinished", 'n treffende skildery op haar kunsuitstalling oor die trauma en tragedie van plaasmoorde. (Foto: Maryna van Wyk)

14/06/2008 20:54 - (SA)

Maryna van Wyk

Bloemfontein

In die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein hang ’n skildery van ’n skaapribbetjie met twee gebakte aartappels. Aan die linkerkant van die skildery drup die verf subtiel in lang, bruin strepe tot teenaan die raam. Dis trane van simboliese hartseer en verlange oor ’n lewe wat vir altyd weggeneem is.

Die skildery deur Pauline Gutter, ’n jong kunstenaar van Bloemfontein en plaaskind van Brandfort, stel ’n plaasmoord voor.

Dit is deel van haar uitstalling, Opslag, wat tans in Bloemfontein te sien is.

Gutter, wie se uitstalling die gewildste nóg vanjaar in Oliewenhuis is, sê sy wil die wanhoop van die boeregemeenskap uitbeeld.

Hartseer en verlange op peinsende gesigte en tant Dolla wat uit haar maag lag, vorm die pilare van ’n boeregemeenskap wat Gutter beskryf as ’n kultuur wat besig is om uit te sterf.

Gutter vertel sy het in haar derde jaar aan die Universiteit van die Vrystaat as kunsstudent begin om plaastonele te skilder. Sy het kort daarna met navorsing oor die trauma van plaasmoorde begin.

Die skildery van die “laaste aandete wat nooit genuttig is nie” vertel die storie van ’n plaasmoord naby Winburg.

’n Boer en sy vrou is in hul plaashuis oorval en doodgeskiet. Die kos was reeds op die tafel tydens die grusame moorde waartydens net R50 geroof is.

“Die gebruik van kleur en lae in dié werk simboliseer die verval van die boeregemeenskap ná ’n plaasmoord en ook die stille finaliteit,” beskryf Gutter dié skildery, wat reeds vir Sanlam se permanente versamel aangekoop is.

Gutter sê met die titel van haar uitstalling, Opslag, wou sy weergee dat in plaasaanvalle “sommerso doodgemaak word”.

“Dit raak almal, daarom het ek ook plaaswerkers geskilder wat ná ’n plaasaanval sonder heenkome en geld is,” sê sy.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2340769,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.