Wednesday, 18 June 2008

Stam-kultuur vernietig SA

Geskryf deur Vlad du Plessis

Sondag, 15 Junie 2008

Een van die hoofartikels in verlede Sondag se Rapport eindig met die sin: “Suid-Afrika is in die grootste bestaanskrisis sedert 1994 – en leierloos”. Hierdie is vir seker een van die meer relevante stellings wat uit die Media24-stal in ‘n lang tyd gekom het. Hoewel die artikel die situasie in die land reg opsom, toon dit net so min begrip vir die toedrag as almal wat tot die Suid-Afrikaanse liberale dampkring behoort.

Regdeur die liberale denkskool word daar toenemend gehoop dat “nuwe leierskap” die land uit sy krisis sal ruk. Sommiges soos Tim du Plessis reken ‘n verkiesing sal ons op ‘n ander koers plaas terwyl ander, soos Koos Kombuis, glo dat die herlewing van ‘n soort UDF-beweging die land in die regte rigting sal stuur. In die algemeen heers die geloof dat die een of ander vernuwing by die uitvoerende arm van die staat Suid-Afrika en spesifiek die konsep “Nuwe Suid-Afrika” weer op die sukses-pad gaan plaas.

Die gebrek aan insig in die Suid-Afrikaanse werklikheid en daarby die Afrika-werklikheid word vertoon deur die geloof in die hedendaagse post-apartheidsbestel sowel as die relatiewe “sukses” daarvan tot onlangs. Om te glo dat die Nuwe Suid-Afrika ‘n sukses kan wees, vereis dat mens glo dat die liberale demokrasie binne die Afrika-verband kan funksioneer. Om te glo dat die Nuwe Suid-Afrika tot onlangs ‘n suksesverhaal was, is om te ontken dat die land op die momentum van die staat-struktuur wat deur die jare van blanke regering neergelê is, gestu was en dat dit net kon werk solank daardie struktuur nog volgens Westerse logika bly funksioneer het. Dit ontken dat die transformasie-ideologie hierdie struktuur van ‘n nuwe logika sou voorsien en dat die nuwe staat, in daardie sin, dus getransformeer word/is.

Volgens die nuwe logika is die staat wel suksesvol, al is dit nie volgens die norme van Westerse sukses nie. In ‘n bestel en kultuur waar meriete nie tel nie en waar individuele verantwoordbaarheid nie vooropgestel word nie, moet daar noodwendig ander uitkomstes verwag word. Die moderne staat wat Suid-Afrika geword het kon alleen volgens die riglyne van ‘n beskawing ontwikkel wat ‘n bepaalde peil van rasionele kulturele ontwikkeling bereik het. Dit is my mening dat die Afrika-kultuur nie oor die meganismes beskik om dié tipe rasionaliteit, wat die funksionering van ‘n modern staat vereis, vol te hou nie. Dit sal onvermydelik tot degenerasie en disintegrasie van die staat lei.

Volgens die liberale uitkyk is so ‘n oorweging op die minste rassisties. Dit is die probleem. Die liberalisme neem nie antropologiese getuienis betreffende die daarstelling van ‘n samelewings-bestel in ag nie. Volgens die liberalisme, maar ook sosialisme, moet die werklikheid begryp word in terme van die gelykheidsideaal. Individue beskik nie bloot oor gelyke regte nie, maar moet ook in alle opsigte gelyk raak of gelykgestel word.

Die sub-teks van die gelykheidsideaal is dat mense ook “dieselfde” is, soos die leuse van die Pretoriase stadsraad aan ons voorhou: “Tshwane – we are the same.” Antropologiese verskille tussen mense behels grootliks aksent-verskille wat hoogstens geringe nuanse-onderskeidings in waardes en gedrag meebring. Die moontlikheid dat kultuurverskille sulke dramatiese verskille mag meebring dat dit ook die samelewings-vorm of selfs beskawingspeil kan bepaal, mag eenvoudig nie oorweeg word nie. So ‘n oorweging sou outomaties die gelykheidsbeginsel in die gedrang bring. Indien dit die geval is, sal die gelykheidsideaal irrelevant wees en die samelewing wat daarvolgens ingerig word onhaalbaar wees, nie weens ‘n tydsgreep van swak leierskap nie, maar bloot omdat die einste samelewing nie daardie ideaal kán verwesenlik nie.

Dit verteenwoordig ‘n groteske krisis want dit sou beteken dat die bestel waarin die Afrikaner alle mag prysgegee het en waarin sy “ideologiese leierskap” hulself met oorgawe gewerp het – volgens dit wat Afrikaners as ‘n sukses kan beskou – misluk het. Die liberale denkers wat die postapartheid-Suid-Afrika in die vorige eeu bedink het, sou nie kon voorsien dat die liberale gedagte van multikulturalisme nie alleen in Suid-Afrika totaal sou misluk nie, maar dat dit ook in die geboorteplek van liberalisme, nl. Europa, in ‘n bestaanskrisis sou beland nie.

Die gebrek aan antropologiese begrip te midde van die huidige krisis staan sentraal by ons onvermoë en verlamming daarteenoor. Onlangs het Jaap Steyn na die pre-nasie-staat verwys waar die nie-politieke en nie-morele natuur-wesens gewoon het. Hierdie tipe eerlikheid is noodsaaklik om ons huidige situasie te verstaan. Die anargie wat ons vandag die “Nuwe Suid-Afrika” noem, is vir seker die resultaat van die Afrikaan wat nie eensklaps binne die moderne fenomeen van liberale demokrasie ‘n sinvolle beskawingsvorm kan daarstel nie. Alle pogings om by die skepping van so ‘n beskawing betrokke te wees, moet deur die katalisator van ver-afrikanisering of “transformasie” gaan. Dit is nie net ‘n ideologiese voorvereiste nie, maar ook ‘n praktiese een, want daarsonder sou daar geen deelname vir die Afrikaan in die bedeling wees nie. Daar kan egter geen deelname sonder die uitdrukking van kultuur plaasvind nie.

Die nasie-staat vereis die bestaan van individualiteit. ‘n Samelewing wat so geografies wyd en institusioneel gediversifiseerd soos die nasie-staat is, vereis dat die inwoners self verantwoordelikheid neem oor moraliteitskeuses. Die instellings wat die samelewing reël, kan nie daagliks by die inwoner se lewe ingryp nie, wat beteken dat die individu self moraliteit en dus ‘n wettige lewenstyl moet kan handhaaf. Die stam-kultuur daarenteenoor is institusioneel ongediversifiseer en die fisiese lewensruimte is nou en beperk. Die stamlid ontglip nooit aan die konstante inmenging van die gemeenskap of die ongediversifiseerde instellings nie. Deels omdat dit dus nie nodig is om self moralitietsbesluite te neem nie, maar ook deels omdat individualistiese gedrag in so ‘n noue bestaansvorm problematies kan raak, versaak die lid hierdie verantwoordelikheid grotendeels en dra dit aan sy sosiale omgewing oor.

Die Afrikaan moet sosiaal-sielkundig as stam-kultuurmens verstaan word. By die Westerling lê die morele lokus van kontrole, normaalweg, by die individu self. By die stam-verbonde mens lyk dit anders. In die stamverband verskuif die lokus meer na die kollektiewe bewussyn en selfs na die stamhoof. (Max Weber het uitvoerig geargumenteer dat die kollektiewe bewussyn help om moraliteit in stand te hou. Volgens Weber se begrip van samelweingsrasionalisering is dit redelik om te verstaan dat die kollektiewe bewussyn in stam-kultuurgemeenskappe ‘n baie sterker invloed sou uitoefen as in moderne samelewings soos die nasie-staat.) In stam-kultuurgemeenskappe bestaan merendeels ‘n eksterne lokus van morele kontrole wat slegs binne beperkte institusionele en geografiese vestigingsverband uitgeoefen kan word. Die ontwortelde stamlid kan dus nie morele ekwilibrium bereik binne ‘n samelewing wat institusioneel en ruimtelik nie vir ‘n eksterne lokus van kontrole voorsiening maak nie. Die stamlid moet vervang word deur ‘n moreel verantwoordbare individu binne die sosiaal losser en meer onpersoonlike vestigingspatrone van moderne verstedeliking. Indien hy dit nie kan doen nie, ontwikkel ‘n moraliteitskrisis.

In die stamverband bestaan die individu dus nie. Die individu kom eers tot stand wanneer die inwoner self die verantwoordelikheid van moraliteit opneem. Dit vereis dus ‘n hoër beskawingsvorm as die stam-kultuur. Die liberalisme behandel nogtans almal as individue. Die vraag is nou of mense binne een of twee geslagte vanaf stamlid tot individu kan vorder? Is die verwydering van die kraal en die stamhoof ‘n voldoende vereiste om van die verstedelikte Afrikaan ‘n moreel verantwoordbare individu te maak? Kan sy tradisionele sielkundige logika so vinnig ongedaan gemaak word? Kan die lokus van kontrole binne ‘n generasie of twee geïnternaliseer word? Ek wil argumenteer dat daar slegs negatief op elk van hierdie vrae beantwoord kan word.

Ek gaan verder om die voorafgaande te demonstreer: Indien die blote verwydering van die eksterne lokus van kontrole (nl. die stam en gepaardgaande kollektiewe bewussyn, die hoof ens.) geskied en nie onmiddellik deur ‘n interne lokus van kontrole vervang word nie, sal die premoderne mens vir seker in ‘n morele krisis verkeer. Verklaar dit waarom swart verstedeliking en misdaad onlosmaaklik verbind te blyk? Is dit waarom korrupsie op alle vlakke gedy en waarom geweld seëvier? Is dit die rede waarom geen Afrikastaat ‘n Westerse suksesverhaal is nie? Het die polisiestaat wat apartheid in sy latere jare geraak het tot groot mate kunsmatige orde in SA afgedwing? My gevoel is dat die antwoord op die voorafgaande vrae ‘n onbetwisbare “Ja” is. Die gedragsbepaler raak die uitvoerbare moontlikhede eerder as die morele moontlikhede. Moraliteit bestaan as’t ware nie meer nie, want die stam-mens het nie ‘n individu geword nie. Publieke teregstellings deur lokasie-inwoners kan ‘n voorbeeld wees van waar kollektiewe ingryp desperaat, hoewel te laat, uitgeoefen word, weens orde wat geheel en al hand uitruk.

Morele kontrole in die stam is direk tussen die lid en stam en daarby ook wederkerig. Die krisis van die stam-kultuur mens, binne die moderne samelewing, is nie alleen dat sy eie morele lokus van kontrole (nl. die stamverband) weg val en daarby sy morele aanspreeklikheid beëindig nie, maar ook dat die nuwe verstedelike sosiale omgewing nie op dieselfde wyse teenoor hom aanspreeklik is as wat in die stamverband was nie. Die probleem is net so erg wanneer mense wat nog nie ‘n morele kokus van kontrole geïnternaliseer het nie die bestuur van ‘n moderne staat oorneem. In hierdie geval verkeer die staat in ‘n krisis aangesien die leierskap dit-self nie aanspreeklik teenoor die burgers voel nie, aangesien daar geen direkte verhouding met die burgery, soos in die geval van stamverband, bestaan nie.

Om voort te hamer dat die NSA volgens die liberaal-demokratiese (en dus Westerse) model ‘n sukses sal word, d.m.v kosmetiese veranderinge soos nuwe leierskap is om die totale antropologiese struktuur van Suid Afrika te negeer. Hierdie droom wat konstant nagejaag word deur die liberale dampkring stuur die land bloot ‘n dieper krisis binne. Maar, miskien is hierdie krisis die nodige katalisator wat die liberale houvas op die land en op die Afrikaner sal breek. Miskien is die totale ineenstorting van die Nuwe Suid-Afrika noodsaaklik voordat dit deur ‘n sinvolle bedeling, wat die werklikhede van Afrika in ag neem, vervang kan word.

Die rol van groot kapitaal om die huidige bestel in stand te hou, mag egter nie geïgnoreer word nie. Enige omwenteling wat tot die finale ineenstorting van die huidige orde mag lei, skep die tipe onstabiliteit wat groot kapitaal sal wil vermy. Groot kapitaal het ‘n belang in die handhawing van die huidige bestel. Die Afrikaner kan nie bloot wag vir die huidige bestel om in duie te stort nie aangesien groot kapitaal se invloed aansienlik is en dus so ‘n ineenstorting ten volle sal probeer teenwerk deur die huidige bestel kunsmatig aan die gang te hou. Die Afrikaner sal aktief en selfs revolusionêr by die aftakeling van die huidige orde betrokke moet raak.

Oorsprong:Praag
http://praag.co.za/index.php?option=com_content&task=view&id=1986&Itemid=403

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.