Friday, 13 June 2008

Vermoor ure voor hy trou

Wyle mnr. Derek Roux (64) en sy aanstaande, me. Wendy Tee (43). Roux sou enkele ure voordat rowers hom in sy huis vermoor het, met haar trou. Foto: Verskaf

Jun 12 2008 09:24:19:760PM - (SA)

Leané du Plessis

“Hy het pas by sy droomhuis ingetrek en was op die punt om met sy droomvrou te trou toe hy wreed uit die wêreld weggeneem is.”

Drie dae ná die aanval op mnr. Derek Roux (64) en sy aanstaande, me. Wendy Tee (43), sukkel Roux se suster, me. Gail Howes, nog om die gebeure te verwerk.

Howes en ’n klein groepie nabye vriende sou eergisteroggend by ’n private geleentheid toekyk hoe Roux, ’n vooraanstaande sakeman, en Tee in die eg verbind word.

In plaas daarvan waak hulle sedertdien langs die hospitaalbed van Tee, wat in haar skouer en nek gewond is nadat twee rowers Dinsdagaand by haar en Roux se huis op die Chartwell-kleinhoewes naby Fourways ingebreek het.

Tee is in ’n stabiele toestand en word binnekort na ’n gewone saal oorgeplaas, het me. Marietjie Shelly, woordvoerder van die Life Fourways-hospitaal waar Tee aansterk, gesê. Sy is by haar volle bewussyn.

Die rowers het omstreeks 21:20 toegang tot die erf verkry, het insp. Balan Muthan, polisiewoordvoerder, vroeër aan Beeld vertel.

Volgens Howes het die rowers ’n kluis in die huis oopgebreek, maar niks gevind nie. “Hulle het geweet waar die kluis was. Hulle weet mos alles deesdae; niks is meer heilig nie.”

Die rowers het Roux in die kop gewond. Hy het in die huis wat hy self ontwerp het, gesterf.

Howes het gister buite die Life Fourways-hospitaal gesê sy is oorweldig deur die groot mate van ondersteuning wat sy tot dusver gekry het.

“Derek was iemand wat soveel ware vriende gehad het – ’n mens beleef dit veral nou.

“Die hartseerste is hy was só passievol oor die land en sy mense. Hy het nooit eers daaraan gedink om te emigreer nie, al het hy ’n hele paar jaar in Dubai gewerk.”

Roux het sy lewe lank maatskappye opgebou voordat hy twee jaar gelede afgetree het, het Howes vertel.

“Hy het self sy droomhuis in Chartwell-noord ontwerp en met behulp van ’n bouer gebou. Hulle het nog net ’n maand daar gebly.

“Dit was so ’n sinnelose moord. Ons hoop maar almal vir die beste – dat die polisie die moordenaars opspoor en laat vergeld vir dít wat hulle gedoen het,” het sy gesê.

Niemand is tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2339842,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.