Thursday, 26 June 2008

Vinnige optrede red gesin tuis

Mnre. Wimpie Swanepoel (28, agter) en Josef Meyer (31) op die Randse Lughawe in Germiston by die helikopter wat ingespan is om na drie rowers te soek. Foto: Amanda Roestoff

Jun 25 2008 07:27:56:470PM - (SA)

Amanda Roestoff

Twee opsporingsagente van ’n veiligheidsmaatskappy het moontlik ’n Wes-Randse gesin van verkragting en die dood gered toe hul vinnige optrede drie rowers onkant betrap het.

Mnre. Wimpie Swanepoel (28) en Josef Meyer (31), sy kollega, het die naweek ’n “oorlog” met drie rowers by Kromdraai aan die Wes-Rand oorleef.

Dit het gekom toe rowers mnr. Jakkie van Kaam (48), sy vrou, Wilma (42), en twee dogters, Karen (16) en Elmien (9), Vrydag by hul tuiskoms kort ná 22:00 op hul hoewe in Heuningklip, buite Krugersdorp, oorval het.

“Ons het net ingetrek toe vlieg dié drie gewapende mans agter die mure uit,” het mnr. Van Kaam vertel.

Een van die aanvallers het Van Kaam in die motorhuis vasgebind, terwyl die ander twee rowers sy vrou en dogters by die huis ingedwing het. Die vroue is gedreig dat hulle verkrag gaan word.

Toe een van die rowers die opsporingstelsel van ’n bakkie ontkoppel, het CTrack, ’n opsporingsmaatskappy, se beheersentrum in Centurion ’n noodsein ontvang.

Meyer en Swanepoel, albei gewapen, het hulle van Krugersdorp na die hoewe gehaas, terwyl ’n derde opsporingsagent van Capital Air met ’n helikopter van die Randse Lughawe in Germiston gestuur is om na die rowers te help soek.

Die rowers, wat die gesin in ’n slaapkamer op die grondvloer van hul dubbelverdiepinghuis aangehou het, se planne is in die wiele gery toe hulle die mans opmerk wat by die hoewe opgedaag het.

Meyer en Swanepoel het van die huis weggery om die bakkie op omliggende paaie te gaan soek. Dis tóé dat die rowers met die bakkie op die vlug slaan.

“Hulle is die helde in my oë!” het Van Kaam aan Beeld gesê.

“As dit nie vir hulle was nie, het ek dalk vandag (gister) nie met jou gepraat nie.”

Swanepoel het vertel die eerste skoot “het op ons geval” toe die bakkie skielik by ’n grondpad uitgejaag kom.

Die rowers is op die Kromdraaipad agternagesit en ’n “oorlog” het uitgebreek “waar een van die rowers soos ’n lap uit die venster gehang en op ons bly skiet” het.

Die opsporingsagente het meer as 40 skote met hul twee vuurwapens – ’n 9 mm Luger- en ’n .45 Norinco-pistool – geskiet.

Die rowers het skielik met die bakkie uit die pad geswaai en oor ’n kragmeter die veld ingejaag.

Meyer en Swanepoel het stilgehou en sowat 3 min. lank die veld ingehardloop, waarna hulle die polisie ontbied het.

Die gesin is ongedeerd in ’n slaapkamer aangetref.

Kapt. Jacob Raboroko, polisiewoordvoerder van Krugersdorp, het gesê die verdagtes is steeds op vrye voete.

Van Kaam se pa, Henk, is twee jaar gelede in ’n rooftog in Krugersdorp doodgeskiet.

amanda.roestoff@beeld.com

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2347046,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.