Tuesday, 3 June 2008

Werker sê hy mis vrou wat hy vermoor het

Me. Johanna Maria Erasmus. Foto: Verskaf

Jun 02 2008 09:41:19:663PM - (SA)

Hilda Fourie

“My hart is seer. Dit was nie nodig om haar dood te maak nie. Ek mis haar.”

Só het ’n plaaswerker, wat sy werkgewer se keel afgesny het en toe seks met haar lyk gehad het, luidens ’n proefbeampte se verslag gesê.

Dié verslag is gister in die Pretoriase hooggeregshof ingehandig tydens die voorvonnisverrigtinge van Amos Maxuring Zulu (57), wat voorheen ter dood veroordeel is. Zulu sal Vrydag in dié hof gevonnis word. Hy is deur waarnemende regter Peter Mabuse skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede en lykskending.

Zulu het by monde van sy regsverteenwoordiger gesê hy is jammer oor wat hy aan me. Johanna Maria Erasmus (70), ’n weduwee, gedoen het. Hy het as ’n trekkerbestuurder by haar gewerk.

Erasmus is in Februarie 2007 dood in ’n bokstal op die plaas Rietfontein in Welbekend in die Bronkhorstspruit-omgewing gevind. Sy het saam met haar seun, Daan, op die plaas gewoon.

Die staat het in die hof aangevoer dat Zulu lewenslange tronkstraf opgelê moet word. Volgens die staat is Zulu nooit van misdaad afgeskrik ná sy vorige veroordeling nie. Zulu is in 1979 aan verkragting skuldig bevind en in 1985 aan moord waarvoor hy die doodstraf opgelê is. Nadat hy tien jaar die doodstraf in die tronk afgewag het, is dit tersyde gestel en is hy vrygelaat.

Die staat het aangevoer die moord op Erasmus was brutaal en dat hy al die kanse in die wêreld gehad het om haar nie van haar selfoon te beroof en seks met haar lyk te gehad het nie. Zulu kon homself nie keer nie. Nadat hy Erasmus vermoor het, het hy met sy normale dag tot dag pligte voortgegaan.

Luidens die verslag het hy die keuse gehad om nee vir misdaad te sê. “Sy misdadige optrede ontbloot hom as ’n persoon wat nie empatie het met mense nie. Hy is jammer oor sy aksies en belowe om ’n goeie mens te wees. Rakende rehabilitasie is die bal in sy eie hande om in ’n beter mens te verander.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2333606,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.