Saturday, 12 July 2008

2 sakemanne in goed beplande lokval vermoor, meen families

Jul 11 2008 07:32:56:297PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – Die families van die twee vermoorde eiendom-sakemanne van dié stad vermoed hulle is in ’n goed beplande lokval gelei voordat hulle vermoor is.

Mnr. Jaco van Zyl, ’n swaer van mnr. Ricus van Zyl (42), het aan Beeld gesê dit lyk of sy swaer en mnr. Evré Hoffman (41) Dinsdagaand naby Burgersfort in Limpopo in ’n lokval gelei is deur twee mans met wie hulle sake sou doen.

Die twee bekende sakemanne van Hoffman Properties is eers van agter in die kop geskiet voordat die bakkie waarin hulle was, aan die brand gesteek is. Albei het verkool.

Mev. Lindie Hoffman en mev. Mientjie van Zyl, die mans se vrouens, sê hulle het Dinsdagaand hul mans herhaaldelik op hul selfone gebel omdat hulle bekommerd was toe dit al hoe later word en hulle nie huis toe kom nie.

“Na 19:00 was sy foon af. Ek het nie geweet dat hy al dood was al die kere wat ek later die aand gebel het nie,” het ’n hartseer Van Zyl gesê.

Lede van die Burgersfort-polisie het ’n nommerplaat van die bakkie, wat aan Van Zyl behoort het, gebruik om die slegte nuus oor te dra.

“Ek het eers gedink dat hulle dalk in ’n ongeluk was en dat dit was hoekom die bakkie gebrand het,” het ’n verslae mev. Hoffman gesê.

Van Zyl en Hoffman is saam met twee mans na die Burgersfort-gebied vir ’n saketransaksie. Hulle het “ ’n groot bedrag geld” by hulle gehad wat hulle aan ’n hoofman sou betaal om grond te bekom waarop hulle chroom sou ontgin. Die verdagtes het op die agtersitplek van die dubbelkajuitbakkie gesit en Van Zyl en Hoffman, sowat 10 km vanaf Burgersfort, van agter in die kop geskiet. Die moordenaars het toe petrol oor die bakkie gegooi voor dit aan die brand gesteek is. Die polisie het twee verdagtes vir ondervraging in hegtenis geneem. Teen druktyd is hulle nog nie van enige misdaad aangekla nie.

Hoffman was ’n recce en het in 1987 as ’n operateur van die weermag se spesmagte gekwalifiseer. Hy was in dié jaar die beste student. Hy het ook die afgelope sewe jaar veiligheidswerk in Irak gedoen voordat hy verlede jaar Hoffman Properties saam met sy skoonma, me. Anne-ke Venter, begin het.

“Evré het Angola en Irak oorleef. Toe ek die oproep kry (oor) wat Dinsdagaand gebeur het . . . ek het gedink hy sal op ’n manier tog kan terugkom,” het sy verslae vrou gesê.

’n Roudiens word vandag om 14:00 vir Van Zyl uit die Lede in Christuskerk in Florapark in dié stad gehou.

Hoffman se roudiens is Maandagoggend om 10:00 uit die Agape-gemeente in President Krugerstraat in die stad. Albei die mans sal privaat veras word.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2356201,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.