Wednesday, 2 July 2008

Egpaar vir niks vermoor

'NOU'S EK 'N WEESKIND' Me. Marthie Potgieter vertel van die moorde op haar ouers nadat hulle gekaap en op 'n hoofweg aan die Oos-Rand doodgeskiet is. Foto: Mary-Ann Palmer

Mev. Yvonne en mnr. Willem Ras saam met hul enigste kleinkinders, Carmen (7, links) en Corli (10).


Jul 01 2008 10:36:55:240PM - (SA)

Gloria Edwards

’n Bejaarde kankerlyer en sy vrou is op die N12 aan die Oos-Rand geskiet – sonder dat hul aanvallers hul motor of enige besittings geroof het.

Mnr. Willem Ras (66), wat aan kanker en Parkinson se siekte gely het, en sy vrou, Yvonne (64), is Saterdagaand gekaap, geskiet en naby Eldoradopark vir dood gelaat.

Mnr. Ras is eers in die rug geskiet en toe uit die bewegende motor gestamp. Hy is op die toneel dood. Sy vrou is in die nek geskiet en vir dood in die motor gelos.

Sy het gister in die Garden City-hospitaal in die weste van Johannesburg aan haar wonde beswyk. Die aanvallers het sonder die motor, ’n Toyota Corolla, of enige van die egpaar se besittings gevlug.

Die Rasse was omstreeks 22:00 op pad terug na hul woonstel in Alberton nadat hulle in Randfontein by hul enigste kind, me. Marthie Potgieter (37), en twee kleinkinders gaan kuier het.

Volgens die polisie het die moordenaars die egpaar vermoedelik iewers van die pad afgetrek en saam met hulle in hul motor gespring. Die verdagtes het hulle waarskynlik gedwing om op die N12-hoofweg na Eldoradopark te ry, waar hulle mnr. Ras naby die Boundary Road-brug in die rug geskiet en uit die motor gegooi het.

Kapt. Philemon Khorombi, Eldoradopark-polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het die motor omstreeks 12:35 Sondag gevind. “Mev. Ras is met ’n skietwond in die nek gevind. Sy het nog asemgehaal en is na die hospitaal geneem. Mnr. Ras se lyk is ’n entjie van die motor gevind. Dit lyk nie of enigiets gesteel is nie.”

’n Moordsaak word ondersoek.

Potgieter, ’n enkelma, sê dit gaan haar “verstand te bowe” dat haar ouers “so vir niks” vermoor is. Hul juwele, kontant en ander besittings is in die motor gevind en vir haar gegee. “Tot my pa se kruis-hangertjie van egte goud wat my ma 25 jaar gelede vir hom gegee het, was nog om sy nek.”

Sy het eers Sondagoggend vermoed iets skort nadat haar ouma, me. Corrie Wijnbeek (95), haar laat weet het haar ouers het nie by hul woonstel opgedaag nie.

Potgieter beskryf haar ouers as “liefdevolle kerkmense”.

Sy het gister, kort ná haar ma se dood, vertel sy is bitter teenoor die moordenaars, wat haar nou “ ’n weeskind” gemaak het. Haar dogters, Corli (10) en Carmen (7), is erg getraumatiseer. “Hulle het gister briefies aan Oupa geskryf vir sy begrafnisblaadjie, nou moet hulle vir ouma ook.

“Hierdie land moet wakker skrik en weer die Here leer ken. Wit, swart, groen en geel moet weer die kerke volsit.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2350363,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.