Wednesday, 30 July 2008

Gru-aanval: Verdagte in rug geskiet

Ncube by 'n vorige hofverskyning. Foto: Marietie Louw-Carstens

Jul 29 2008 10:33:34:900PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – Die Zimbabwiër wat verlede jaar ’n bejaarde egpaar van Mookgopong (Naboomspruit) glo erg aangerand het, is geskiet toe hy uit polisieaanhouding wou ontsnap.

Mnr. Brian Ncube (23) is drie weke gelede skrams in sy rug getref toe hy by die landdroshof in dié dorp wou ontsnap.

Ncube word verdink van die moord op mnr. Theuns Janse van Rensburg (72) en poging tot moord op mev. Hettie Janse van Rensburg (70), wie se vingerpunte aan haar linkerhand in die gru-aanval in Desember afgesny is.

Insp. George Ledwaba, polisiewoordvoerder, het gesê Ncube het probeer ontsnap toe hy op 7 Julie ná ’n hofverskyning na die aangrensende polisiekantoor teruggelei is.

Ncube het glo van ’n voetboei ontslae geraak en probeer om oor ’n draadheining te spring. Hy het polisielede se waarskuwingskote verontagsaam en is raak geskiet.

Ledwaba het gesê Ncube is vir die wond behandel en is steeds in aanhouding by die polisiekantoor in dié dorp.

Ncube het vir Janse van Rensburg se tuindiensonderneming gewerk. Janse van Rensburg is herhaaldelik met ’n panga oor die kop en lyf geslaan.

Mev. Janse van Rensburg se vingertoppe is met ’n snoeiskêr afgesny.

Haar regterarm is ook so erg gebreek dat ’n been deur die vel gesteek het. Sy het ’n hele nag lank bloeiend in ’n badkamer van die huis in Sewende Straat weggekruip terwyl die aanvallers die huis geplunder het.

Die aanvallers het na bewering langs ’n beseerde, bewustelose mnr. Janse van Rensburg op die bed gelê en TV kyk.

Mnr. Janse van Rensburg het nooit ná die aanval sy bewussyn herwin nie en is later in die Unitas-hospitaal in Centurion dood.

Ncube en mnr. Tapi-swa Moyo (24), ook van Zimbabwe, is kort ná die aanval deur lede van die gemeenskap slegs ’n paar huise van die Janse van Rensburgs se huis aangekeer. Hulle het toe na bewering weer by ’n huis probeer inbreek.

Ncube het by sy eerste hofverskyning aan Beeld gesê mnr. Janse van Rensburg het hom seergemaak en sleg behandel.

Mev. Janse van Rensburg woon nou in ’n versorgingseenheid naby familie in die Kaap.

Sy was etlike weke lank in die hospitaal en sukkel steeds met die gebruik van haar linkerhand. Ncube en Moyo moet weer op 25 Augustus in die Mookgopong-landdroshof verskyn.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2366314,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.