Monday, 7 July 2008

Huisbaas skiet man wat storm

Jul 07 2008 08:23:57:517AM - (SA)

Liezel Joubert

’n Inwoner van die Johannesburgse spogbuurt Houghton het die naweek ’n vermeende rower in sy erf in die maag geskiet.

“Ek sal jou doodmaak,” het die man na bewering vir mnr. Keith Webster (50) geskreeu terwyl hy met ’n baksteen in sy hand op hom afgestorm het.

Webster, wat ’n paar minute tevore ’n waarskuwingskoot afgevuur het, het besef sy lewe is in gevaar en die man in die maag geskiet.

Webster het gister omstreeks 04:15 wakker geword van ’n geraas.

Toe hy gaan ondersoek instel, het hy gesien ’n venster by die trappe is stukkend. Hy het uitgehardloop en ’n waarskuwingskoot afgevuur. Die man het toe op hom afgestorm.

Volgens Webster was daar al etlike soortgelyke gevalle by hul huis.

“Wanneer skiet hulle my of my ouers? Dis net ’n kwessie van tyd. Ons het geen lewensgehalte meer nie.”

Webster, ’n eiendomsagent en entrepreneur, beplan om binne die volgende paar maande sy sake in orde te kry en na Spanje te emigreer.

Kapt. Phillip Maganedisa, polisiewoordvoerder, het gesê die verdagte is onder polisiebewaking in ’n plaaslike hospitaal.

Sodra hy ontslaan word, sal die saak verder ondersoek word.

Volgens Maganedisa sal daar nie ’n saak teen Webster aanhangig gemaak word nie omdat hy uit selfverdediging geskiet het.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2353177,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.