Thursday, 3 July 2008

Jong boer doodgeskiet

Jul 02 2008 10:56:13:220PM - (SA)

Arisja Jacobs en Buks Viljoen

Secunda. – ’n Jong boervrou het haar kleuter en haar baba gegryp en uit hul bakkie gevlug toe moordenaars op hul plaas die eerste skoot op haar man geskiet het, wat later beswyk het.

Mev. Nicolene Nel (29) het met Zanell (2) en Nico (7 maande) die veld ingehardloop in opdrag van haar man, Tienie (33), nadat die eerste skoot hom onder die regterarm getref het.

Hy is uit sy Ford Ranger-bakkie gepluk en weer geskiet.

Daarna het die twee moordenaars in die bakkie weggejaag.

Volgens konst. Khabo Skhosana, woordvoerder van die Leandra-polisie, is die moordenaars dieselfde mans wat vroeër gisteroggend by ’n plaashuis op die plaas Brakspruit ingebreek het.

Hulle het die gesteelde goed op ’n trekker en sleepwa gelaai en daarmee gevlug. Die trekker is naby die kapingstoneel gevind, waar dit klaarblyklik onklaar geraak het.

’n Rewolwer is onder meer gesteel en dit is vermoedelik waarmee Nel geskiet is. Al die gesteelde huisraad wat op die sleepwa was, is gevind waar die aanvallers dit net so gelos het.

Mev. Nel het gister vertel sy het na haar man teruggegaan nadat die moordenaars weggejaag het.

“Ek het die plaasvoorman gebel om te kom help.”

Die gesin Nel het sowat drie weke gelede na die Leslie-distrik tussen Leandra en Evander in Mpumalanga verhuis om Tienie se pa, mnr. Frans Nel, op sy plaas Kafferspruit te help.

Tienie sou sy pa gehelp het omdat Nel sr. nog herstel van beserings wat hy in ’n motorongeluk opgedoen het.

Die jong gesin het gistermiddag omstreeks 14:00 na beeste by ’n spruit gaan kyk toe hulle twee voetgangers gewaar het. Die mans het glo gelyk of hulle hulp nodig het.

Volgens die polisie het Nel vermoedelik by die venster uitgeleun en met hulle gesels toe een hom skielik onder sy regterarm skiet.

Nadat hulp opgedaag het, is daar met Tienie per bakkie na ’n plaaswinkel naby Brendan Village gejaag waar ER24 hulle ingewag het.

Nel het in die ambulans op pad na die Hoëveld Medi-Clinic in Trichardt, sowat 20 km daarvandaan, beswyk.

Die Leandra- en Evander-polisie het teen gistermiddag laat nog nie iemand gearresteer nie.

Oorspring:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2351034,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.