Thursday, 24 July 2008

‘Julle ryk mense betaal ons dan net R50’

Mnr. Gert Strydom van Krugersdorp aan die Wes-Rand wys die wond aan sy linkersy, ná hy deur lede van die N14-hoofwegbende naby Diepsloot aangeval is. Foto: Amanda Roestoff

Jul 23 2008 10:27:41:770PM - (SA)

Amanda Roestoff

’n Motoris van Krugersdorp aan die Wes-Rand is eergister naby Diepsloot, noord van Johannesburg, op die N14-hoofweg gewond en ontvoer deur ’n bende wat vermoedelik padversperrings in die pad aangebring het.

“Julle ryk mense gee vir ons werk en betaal ons dan net R50,” het ’n rower mnr. Gert Strydom (46), ’n bedryfsbestuurder, later in Engels toegesnou.

Strydom is deur sy aanvallers gevloek en summier geskiet, nadat hy langs dié hoofweg stilgehou het om die skade aan sy motor te bepaal nadat hy iets in die pad getref het.

Beeld het vroeër vandeesmaand berig oor twee bendes wat op dié hoofroete tussen Pretoria en Krugersdorp aan die Wes-Rand padversperrings met onder meer motorbande maak. Motoriste word dan beroof wanneer hulle stilhou en die skade bekyk of nie verder kan ry nie omdat hul motors te erg beskadig is.

Strydom het Maandag omstreeks 04:15 met sy Mercedes-Benz C320 CDI van sy huis na Steelpoort in Mpumalanga vertrek om werk by ’n aanleg te gaan doen.

Hy het enkele oomblikke later naby die Jukskeirivier “iets in die pad” raak gery, “ ’n geluid en vibrasie” gehoor en uitgeswaai, toe hy ’n motorbuffer in die pad sien lê.

Toe hy uitklim om die motorskade te bepaal het twee mans skielik met vuurwapens verskyn.

“Hulle het op my begin skree en vloek,” het Strydom vertel.

Die voorste aanvaller het hom in die linkersy geskiet. Die koeël is agter by sy rug, bo sy heup, uit. Strydom het die een rower uit die pad gestamp en in die rigting van die veld gehardloop, toe die ander rower sy enkel van agter vasgegryp en hy gestruikel het.

Een van sy aanvallers het ’n vuurwapen teen sy kop gedruk en sy selfoon en trouring gevat, terwyl die ander sy motor deurgesoek het.

Sy hande is met breë kleefband vasgebind en hy is in die agterste sitplek ingedwing. Hulle het met hom weggery.

Dit is toe dat een kla oor “die ryk mense”.

“Toe ons langs die R511 ry, het ek net vir die Here begin bid en gevra hy moet my beskerm en deur dié beproewing lei,” vertel Strydom.

Die mans het hom met ’n pistool teen die kop gedwing om sy bankkaart se PIN-kode vir hulle te gee. Hulle het by ’n winkelsentrum in Fourways, noord van Johannesburg R2 000 uit sy rekening getrek. Die rowers het reisbagasie uit sy motor verwyder en hom in die kattebak gedwing. Hulle het êrens stilgehou en nog twee makkers opgelaai terwyl Strydom “heeltyd bloed teen sy rug kon voel afloop” en hy sy hande begin loswikkel het.

Sowat 2 km van waar hy gekaap is, het sy aanvallers stilgehou en hul twee makkers weer afgelaai.

Strydom is uit die kattebak bevry en gesê dat hy voor in sy motor mag inklim.

Hy het dadelik huis toe gejaag om hulp te kry.

Mev. Heila Strydom (47), ’n onderwyseres van die Wes-Randse skool op dié dorp, het hom na die noodgevalle-afdeling van die Netcare Krugersdorp- private hospitaal gehaas.

“X-strale is geneem en die koeël het gelukkig nie enige organe of beendere beskadig nie.”

Hy is later dieselfde middag geopereer om gebrande weefsel te verwyder, die wond skoon te maak en met sewe steke te heg.

“Mense moet versigtig wees; ek is met die domste trick in die boek gevang,” het hy ná die voorval gesê.

“Ek is nie negatief oor dié land nie.

“Ek is bly ek het gespaar gebly om oor die Here se beskermende Hand oor my lewe te kan getuig.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2362941,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.