Saturday, 5 July 2008

Laaste tot siens aan ouma en oupa van Alberton

Me. Marthie Potgieter word gister deur familielede ondersteun by haar ouers, mnr. Willem en mev. Yvonne Ras, se begrafnis in Alberton aan die Oos-Rand. Die Rasse is sinneloos doodgeskiet. Foto: Mary-Ann Palmer

Jul 04 2008 10:20:51:073PM - (SA)

Gloria Edwards

“Ouma en oupa is nou saam in die Hemel.”

Só het die enigste kleinkinders van ’n vermoorde bejaarde egpaar van Alberton aan die Oos-Rand gister by hul grootouers se begrafnis gesê.

Mnr. Willem Ras (66), wat aan kanker en Parkinson se siekte gely het, en sy vrou, Yvonne (64), is Saterdagaand op die N12 gekaap, geskiet en naby Eldoradopark vir dood gelaat. Dít sonder dat hul aanvallers hul motor of enige besittings geroof het.

Mnr. Ras is eers in die rug geskiet en toe uit die bewegende motor gestamp. Hy is op die toneel dood. Sy vrou is in die nek geskiet en vir dood in die motor gelos. Sy is Dinsdag in die Garden City-hospitaal in Johannesburg oorlede.

Die Rasse was omstreeks 22:00 op pad terug na hul woonstel in Alberton nadat hulle in Randfontein by hul enigste kind, me. Marthie Potgieter (37), en twee kleinkinders, Corli (10) en Carmen (7), gekuier het. Volgens die polisie het die moordenaars die egpaar vermoedelik iewers afgetrek en saam met hulle in hul motor gespring. Die verdagtes het hulle waarskynlik op die N12-hoofweg na Eldoradopark gedwing, waar hulle mnr. Ras naby die Boundary Road-brug geskiet en uit die motor gegooi, en toe sy vrou in die nek geskiet het.

Honderde familielede en vriende het gister die Gereformeerde Kerk in Alberton-Wes volgesit om afskeid van die egpaar te neem.

Corli en Carmen het elk “koebaai-briefies” aan hul ouma en oupa geskryf, wat op die Rasse se begrafnisblaadjie gepryk het.

’n Getraumatiseerde Potgieter, wat haar ouers vroeër as “liefdevolle kerkmense” beskryf het, is deur familielede bygestaan.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2352344,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.