Tuesday, 22 July 2008

‘Liewe Jesus, Oupa Andries is op pad na jou toe’

Jukskeispelers in wit geklee hou 'n erewag buite die NG kerk Wonderboom-Suid in Pretoria terwyl mnr. Andries Visser se kinders en kleinkinders sy kis uit die kerk dra. Voor die kis stap Visser se kleinkinders Zeldine van Straten (links) en Juan Visser, albei nege jaar oud. Aan die voorpunt van die kis is mnr. Visser se skoondogter, mev. Herliaan Visser (links), en sy dogter, mev. Zeldi van Straten. Foto: Leon Botha

Jul 21 2008 08:36:34:430PM - (SA)

Virginia Keppler

“Wanneer gaan die geweld ’n einde kry?”

Só het ds. At van Niekerk van die NG kerk Wonderboom-Suid gister moedeloos gevra tydens mnr. Andries Visser (82) se begrafnisdiens terwyl sowat 400 mense stil na hom gestaar het.

Visser is verlede Dinsdagaand in sy huis in Wonderboom-Suid, Pretoria, dood terwyl hy met ’n byl in die hand tot die dood toe baklei het om sy 70-jarige vrou, Debora, teen vyf gewapende aanvallers te beskerm.

Dit is nadat die aanvallers op mev. Visser gespring en haar geskop en geslaan het. Hulle het met ’n selfoon en ’n handsak gevlug.

Die egpaar was die organiseerders van die jaarlikse na-sionale jukskeitoernooi vir senior burgers in Kroonstad. Hulle het ook jukskeiliga gespeel.

Talle jukskeispelers van oor die land heen het die begrafnisdiens bygewoon.

Mnr. Tobie van Wyk, voorsitter van die seniorburgerjukskeivereniging, het gesê: “Andries, sonder jou gaan jukskei op Kroonstad nooit weer dieselfde wees nie.”

Van Niekerk het gister gesê dit is belangrik dat “ons in ons lyding weer hoop sal ontdek”.

“Dit wat hier gebeur het die afgelope week, demonstreer weer eens hoe lyk die Suid-Afrika waarin ons leef. Dit maak ons oë oop vir die feite van die verganklikheid van die wêreld.

“Om gelowige, blywende kinders van God af te maai asof hulle diere is, net vir ’n selfoon en ’n handsak . . . ”

Terselfdertyd het Van Niekerk gevra mense moenie haat nie.

“Ons kan óf haat óf Jesus se voorbeeld volg en soos Christus vergewe het, moet ons ook dié vergewe wat teenoor ons oortree het. Leef!” het hy Visser se vrou, kinders en kleinkinders aangemoedig.

Visser se seun, Dries (40), en sy dogter, mev. Zeldi van Straten (43), het elkeen in ’n huldeblyk hul pa bedank vir die wonderlike pa wat hy was en dat hy so lief was vir hul ma.

“My hart is baie seer omdat die skiewies oupa kom wegvat het,” het Juan (9) in ’n brief aan sy oupa geskryf.

Hy, sy broer, Henning (5), en hul neef en niggie, Zeldine (9) en Zandré (14), het in ’n brief aan liewe Jesus geskryf: “Oupa Andries is op pad soontoe.

“Nou wil ek net gou-gou vir Liewe Jesus vertel waarvan Oupa hou sodat as hy in die hemel kom, alles reg sal wees.

“Liewe Jesus, sê tog vir hulle hulle moet lekker kos reg hou vir hom, want ek dink Oupa sal nogal honger wees as hy daar kom. My oupa het nooit van blink goeters gehou nie; hy sal eerder daarvan hou om tussen die voëltjies en diere te bly.”

Ná die diens het die tientalle jukskeispelers, almal in wit geklee, ’n erewag gehou terwyl Visser se kinders en kleinkinders sy kis uit die kerk gedra het.

“Ons gaan pa nooit vergeet nie,” het Visser jr. gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2361675,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.