Sunday, 13 July 2008

Onthullings oor huisroof

12/07/2008 21:06 - (SA)

Lisl Steenkamp

Parlementêre Beriggewer

Die jongste navorsing oor Suid-Afrika se mees gevreesde misdaad toon agt uit elke tien huisrooftogte word gepleeg op grond van inligting wat rowers ontvang van huishulpe, tuiniers en mense wat die inwoners ken.

Ryk mense wat in luukse motors ry, duur juwele dra en ’n ooglopend hoë leefstyl het, word meestal geteiken.

Só ook opvallende huise soos dié met twee verdiepings of wat argitektonies besonders is.

Die rooftogte word noukeurig beplan en eers uitgevoer nadat die huis dae lank dopgehou is om inwoners se roetine te bepaal.

Sommige rowers sal selfs snags op die erf rondloop om te bepaal hoe hulle kan inkom en deur vensters kyk om te sien waar waardevolle besittings gebêre word.

Nou het dr. Rudolph Zinn, senior dosent aan Unisa se departement van forensiese- en misdaadondersoeke, bevind van álle veiligheidsmaatreëls is klein honde in die huis die grootste afskrikmiddel omdat hulle op hul hoede is vir vreemde geluide.

Zinn se navorsing oor huisrooftogte gaan vandeesweek voorgelê word aan dr. Chris de Kock, hoof van die polisie se sentrum vir misdaadanalise en -statistieke.

Die polisie wil dit vergelyk met hul inligting wat uit dossiere van huisrooftogte versamel is.

Die jongste misdaadstatistieke toon 40 huisgesinne word daagliks landwyd deur rowers in hul huise aangeval.

Dié rooftogte het die afgelope boekjaar met 13,5% toegeneem tot byna 15?000 voorvalle, waarvan die helfte in Gauteng gepleeg is.

Zinn het die afgelope twee jaar navorsing gedoen oor huisrowers se profiel, hul werkwyse, motiewe en gewelddadigheid.

Die inligting spruit grootliks uit onderhoude wat hy verlede jaar gevoer het met dertig veroordeelde huisrowers in ses Gautengse gevangenisse. Zinn sê dié misdadigers is die gehardste wat hy tot nog toe teëgekom het.

“Hulle laat my hare regop staan. Wat my opgeval het, is dat hulle géén genade betoon nie. Hulle het absoluut geen respek vir die slagoffer en mense se waardigheid nie.”

Die rowers het geen rassevooroordele nie. “Wit of swart, as jy geld het, sal jy dit ontgeld. Hulle is so gierig, níks sal hulle keer nie.”

Die gemiddelde huisrower is ’n werklose jong man van tussen 19 en 26 jaar. Hy is ’n beroepsmisdadiger wat uiterste geweld gebruik om sy slagoffers te intimideer en sal nie huiwer om te moor nie.

Slagoffers word gedreig, verskreeu en gevloek, ongeag of dit vroue en kinders is.

Deur aanranding dwing hulle onderdanigheid af en enigiemand wat hom teësit, sal vermoor word.

Slagoffers word gewoonlik gemartel om seker te maak hulle steek niks waardevols weg nie en een uit elke vyf vroue word verkrag.

Die geweld is gewoonlik veel erger as wat in dié situasie nodig is om die slagoffer te oorweldig, sê Zinn.

Hy het bevind dat rooftogte selde opportunisties plaasvind.

Huise word dae lank dopgehou en in plaasaanvalle kan dié “waarnemingstydperk” tot twee weke duur voordat die rowers toeslaan.

Volgens Zinn bekom rowers in 80% van die gevalle vooraf inligting van werknemers of voormalige werknemers, ’n vriend of ’n kliënt van die inwoners oor ’n huis met groot hoeveelhede kontant en luukse ware.

Huisalarms en noodreaksie-een-hede skrik rowers nie af nie, hulle wysig bloot hul werkwyse deur toe te slaan voordat inwoners die alarm aktiveer. Of hulle wag die inwoners by die hek in wanneer hulle saans tuis kom.

Die meeste van die veroordeeldes sê klein honde – veral dié wat binnenshuis aangehou word – is die beste afskrikmiddel, lui die verslag.

Huisrooftogte word beskou as meer lonend as ander misdade.

Benewens duursame ware word R5 000 kontant gemiddeld per rooftog gebuit.

Die geld word grootliks bestee aan duur klere en skoene, partytjies en vroue.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2356525,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.