Wednesday, 23 July 2008

Steve wens 'ergste straf ' vir moordenaars

Jul 23 2008 07:34:07:183AM - (SA)

Kaapstad. - "Hartseer, baie hartseer" is hoe die bekende sanger Steve Hofmeyr die moord die naweek op sy lewenslange familievriend, mnr. Willie Rousseau (76) van Jacobsbaai, beskryf.

Rousseau is verlede Vrydag gekaap en vermoor.

Hofmeyr het gister aan Beeld se susterkoerant Die Burger gesê dié tipe wrede misdade is nou net te naby. "Dit sny aan my been."

Hy het gesê hy gaan op rekord en wens vir die verdagtes die ergste moontlike straf vir dit wat hulle gedoen het. "Nie net omdat dit iemand is wat ek ken nie, maar omdat hulle, die misdadigers, op weerlose bejaardes en kinders teer."

Hofmeyr het gesê hy wens alle gemeenskappe van regoor die land, en veral die gemeenskappe aan die Weskus, betoog voor howe waar die verdagtes verskyn en hul solidariteit met die families en vriende wys.

"Ons werk so hard aan 'n ideaal waar almal saam kan leef en lief is vir mekaar, maar dan kom 'n 'derde mag' en vernietig alles."

Die sanger sê hy het nog altyd die Weskus as een van die veiligste plekke in Suid-Afrika beskou, maar dan gebeur so iets om dié prentjie aan flarde te ruk. Die twee verdagtes in die Rousseau-moord verskyn weer Maandag in die hof. - Maygene de Wee

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2362372,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.