Saturday, 2 August 2008

2 huishulpe, rower in hof nadat werkgewer by haar huis oorval is

Aug 01 2008 10:00:54:367PM - (SA)

André Damons

Twee huiswerkers het gister saam met ’n vermeende huisrower op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en sameswering om te roof in die Wynberg-landdroshof in Johannesburg verskyn.

Dit kom nadat hulle met die roof van een van hulle se werkgewers verbind is.

Volgens supt. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder, was een van die huiswerkers die baasbrein agter die rooftog van 27 Junie in Henryweg in Rivonia.

’n Mev. Ulantis is dié betrokke dag saam met haar huiswerker, me. Puleng Kwenaise, omstreeks 08:30 by haar huis deur drie mans aangehou en beroof.

Hulle het met verskeie items en haar motor, met ’n totale waarde van R300 000 gevlug. Dit het later aan die lig gekom dat Kwenaise glo agter die rooftog sit.

Sy het me. Doreen Ramalepa, ’n huiswerker wat ’n paar huise van haar af werk, glo gekry om die rowers te reël.

“Die huiswerker het nog ’n huiswerker wat ’n paar huise van haar af werk, genader om te reël dat sy iemand moet kry om haar baas te beroof. Dié huiswerker het toe drie mans gekry om die vrou te beroof,” het Opperman gesê.

Volgens hom het die polisie ’n deurbraak gemaak toe Kwenaise tydens polisie-ondervraging geknak en erken het sy is betrokke.

Sy en die tweede huiswerker, wat die mans gereël het, is op 25 Julie gearresteer terwyl een van die rowers, mnr. Clement Kwenaise, ’n week later aangekeer is.

Die polisie is steeds op soek na die ander twee rowers.

Volgens Opperman is die saak vir sewe dae uitgestel.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2368538,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.