Monday, 4 August 2008

Bejaarde man is grusaam vermoor, vrou aangerand

Aug 03 2008 09:36:39:677PM - (SA)

Virginia Keppler en Leané du Plessis

“Hulle het hom soos ’n skaap keel-af gesny.”

Só het ’n buurman ’n gru-aanval gisteroggend op ’n bejaarde egpaar van Phalaborwa, Limpopo, beskryf.

Mnr. Robert (Bob) Julyan (70) en sy vrou, Rhoda (65) is in die vroeë oggendure deur drie aanvallers in hul huis in Essenhoutstraat oorval. Julyan is herhaaldelik gesteek en sy keel afgesny, terwyl mev. Julyan vasgebind en aangerand is.

Die drie aanvallers het glo herhaaldelik gevra waar die egpaar se seun is, het supt. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, gesê.

Volgens hom het mev. Julyan die aand honde hoor blaf en uitgegaan om ondersoek in te stel.

Terwyl sy buite was, het die aanvallers by die huis ingehardloop sonder dat sy hulle gesien het. Hulle het haar toe in die huis oorval, het Ramatseba gesê.

“Die verdagtes het gevlug sonder om ’n ding uit die huis te steel. Die polisie weet in dié stadium nie wat die motief vir die aanval was nie,” het Ramatseba gesê.

Volgens me. Maude Steyl, mev. Julyan se niggie wat haar gister ondersteun het, was die seun, Steven (40), in Pretoria waar hy ’n doktersafspraak gehad het.

Steyl het gesê die seun het gister teruggekeer nadat hy van die aanval gehoor het.

Die drie aanvallers het mev. Julyan glo teen die kop “geklap en geklap”, het Steyl vertel.

“Sy arme ma is erg geskok en nie in staat om nou met die media te praat nie. Die dokter het haar iets gegee om haar ’n bietjie te laat slaap,” het sy gesê.

Volgens mnr. Boet van Staden, die egpaar se buurman, is mnr. Julyan ’n paar dae tevore uit die hospitaal ontslaan nadat ’n spinnekop hom gebyt het.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord en aanranding, het Ramatseba gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2369263,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.