Saturday, 30 August 2008

Huisrooftog: Vrou (53) sterf, man gewond

'n Onbekende man vertroos die ouer dogter van mev. Marge Wilson op die toneel waar haar ma doodgeskiet en haar pa, mnr. Dave Wilson, ernstig gewond is. Dié familielede wou hulself nie identifiseer nie. Foto: Samantha Simons

Aug 29 2008 09:52:37:103PM - (SA)

Amanda Roestoff
amanda.roestoff@beeld.com

‘Ek is geskiet en Marge is dood!”

So het ’n gewonde mnr. Dave Wilson (57), hoof van die geologie-afdeling van die mynmaatskappy De Beers, gisteroggend glo op sy selfoon aan sy swaer gesê nadat rowers met 9 mm-pistole op hom en sy vrou, Marge (53), in hul huis in Drakenslaan, Quellerina aan die Wes-Rand, geskiet het.

Mnr. Michael Brett, dieswaer, het gister gesê sy suster het gisteroggend omstreeks 07:30 waarskynlik “uit roetine” die veiligheidshek by die huis se ingangsportaal oopgemaak en na die dubbelmotorhuis ge-stap om die elektriese hek vir die huiswerker oop te maak.

Insp. Hein van Heerden, polisiewoordvoerder, het gesê hulle vermoed die vier rowers het toe saam met die huiswerker die perseel binnegestap.

“Hulle moes haar (Marge) binne oorval het, want albei is in die voorkamer geskiet,” het Brett gesê.

Een van die koeëls het mev. Wilson – steeds in haar blou nagklere – in die linkerbors getref en is by haar rug uit voordat dit teen ’n muur in die voorportaal vasgeslaan het.

Sy het inmekaargesak en is op die toneel dood.

Mnr. Wilson is regs in die bors, naby sy bo-arm, getref.

’n Buurman (47) wat nie sy naam wou noem nie, het gesê hy was in sy slaapkamer besig om aan te trek toe hy twee skote, gevolg deur ’n gil, gehoor het. Hy het ’n leer gebruik en oor die hoë muur geloer, waar hy ’n man in ’n blou oorpak saam met die huiswerker by die huis sien uitstap het. Hy het later gesien dat mnr. Wilson ook bebloed uit die huis kom en het met hom gepraat.

Die vier rowers en die vrou (35) is gesien waar hulle in ’n koperkleurige Mercedes-Benz (HYF 252 GP) geklim en weggery het. Mnr. Okkie Nel, bestuurder van die veiligheidsmaatskappy Best Secure, het op die toneel bevestig dat ’n veiligheidswag (37) van dié maatskappy die wegkommotor ingedwing en ontvoer is.

Die wag is later in Maraisburg langs die N1-hoofweg afgelaai, maar die huiswerker is steeds soek.

Mnr. Wilson is tans in ’n ernstige maar stabiele toestand in die Flora-kliniek.

Mnr. Bruno Ragghianti, voorsitter van die Florida-polisiekantoor se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het gesê slegs drie misdaadvoorvalle het die afgelope vyf maande in dié gebied voorgekom.

“Die gebied was ’n groot brandpunt, maar het deur verbeterde veiligheidsmaatreëls (kameras en bykomende veiligheidswagte in die gebied) daarin geslaag om misdaad te minimaliseer,” het Ragghianti gesê.

“Die regering sal daadwerklik iets moet doen om wetgewing só aan te pas dat inwoners en die polisie beskerm word. Dié misdaad is soos ’n kanker,” sê Ragghianti.

Die polisie het vasgestel dat die huiswerker die ontvoerde wag glo vroeër gevra het hoekom hy “skielik ander skofte” werk.

Haar moontlike betrokkenheid in die misdaad word ondersoek. Beeld verneem dat sy van Zimbabwe is. Die polisie het haar naam nog nie bekend gemaak nie.

Net ’n bos huissleutels met ’n afstandbeheertoestel word vermis.

Familielede het mekaar op die toneel ondersteun.

Die egpaar se twee jonger kinders, Karen en Rodrick, albei in hul twintigs, sal vermoedelik vandag van Engeland hier aankom.

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help, kan supt. Richard Shibiri bel by 082 461 3325 of kapt. Hein Steyn by 082 412 2237.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2385121,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.