Saturday, 2 August 2008

Lewenslank vir huiswerker

Aug 01 2008 10:00:52:537PM - (SA)

Magdel Fourie

’n Johannesburgse huiswerker is lewenslange tronkstraf opgelê omdat sy huurmoordenaars gekry het om haar jare lange werkgewer se vriendin te vermoor.

Zodwa Ngema (53), voorheen die inwonende huiswerker van mnr. George Janssens van Craighall Park, het destyds mnr. Bheki Mahlangu (29), ’n tradisionele geneser van Alexandra, genader om me. Cheryl Carter te vermoor.

Dít uit vrees dat sy haar blyplek en werk van sowat 13 jaar sal verloor omdat Janssens glo op Carter se aandrang na ’n meenthuis wou verhuis.

Op die Sondagnag van 12 Maart 2006 het “rowers” toe Carter en Janssens in sy huis in Buckinghamlaan oorval, vasgebind en die huis van kosbaarhede gestroop.

Carter is twee keer met ’n mes in die kop gesteek en het twee dae later in die Milpark-hospitaal beswyk.

Regter Philip Hattingh het in April Ngema en Mahlangu, sowel as Lybon Makhubela (26) wat by was met die rooftog, aan dié gru-moord skuldig bevind.

As straf daarvoor het hy al drie van hulle gister in die Johannesburgse hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

“Die absolute brutaliteit, ongevoeligheid en onbeskaamdheid waarmee die moord en rooftog uitgevoer is, wys nie een van hulle heg enige waarde aan ’n ander se lewe nie,” het Hattingh in sy vonnisuitspraak gesê.

Veral die feit dat dit ’n kontrakmoord was, dien as verswarende omstandighede.

Die aanval is vooraf versigtig en koelbloedig beplan, en al drie van hulle het geweet die hoofdoel was om Carter te vermoor, het hy verduidelik.

Boonop het Ngema die vertroue wat Janssens in haar gehad het, só absoluut misbruik.

Vir elk van die twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede waarop Mahlangu en Makhubela skuldig bevind is, is elk ’n bykomende 15 jaar tronkstraf gevonnis.

Geklee in ’n pienk kopdoek en rooi trui, het Ngema in die beskuldigdebank gehoor sy is óók weens haar sameswering tot dié rooftog tot nog 15 jaar agter tralies gevonnis.

Mahlangu is met nog vier en ’n half jaar tronkstraf gevonnis weens die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Die vonnisse word gelyklopend as effektief lewenslange tronkstraf uitgedien.

“Vandag se gemeenskap word toenemend wetteloos.

“Huisrooftogte waarin slagoffers ernstig beseer word en sterf, is ’n daaglikse verskynsel.

“Die samelewing vereis daarom van die hof om die boodskap uit te stuur dat sulke misdadigers swáár gestraf word,” het Hattingh afgesluit.

Hattingh het die verdediging se aansoek om verlof tot appèl geweier.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2368540,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.