Thursday, 21 August 2008

Man sterf drie weke ná rooftog

Aug 20 2008 09:02:54:040PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Bekende in fietsrykringe, mnr. Chris Bam (57) van Doornpoort, noord van Pretoria, is gisteroggend dood, drie weke nadat hy en sy gesin aangeval en sy seun tydens ’n mislukte rooftog doodgeskiet is.

Me. Adél Harris (32), Bam se oudste dogter, het gesê haar pa se hart het gisteroggend in die Akasia-hospitaal gaan staan.

“Sy skietwonde was erg gewees en hy het infeksie gehad.”

Bam, sy vrou, Veronica (54), en hul seun, André (26), is op 28 Julie om 02:10 in hul slaap oorval.

Bam is drie keer raakgeskiet en sy seun is een keer in die kop geskiet.

Bam is ook met die vuiste geslaan terwyl hy in sy bed gelê het.

“Hy het ook longontsteking gehad,” het Harris bygevoeg.

Sy het gesê die familie gaan haar pa in Koppies in die Vrystaat begrawe waar hy sy lewe lank ’n melkboer was.

Bam het Noord-Vrystaatse kleure in fietsry verwerf.

Bam jr. (26), vir die Griffons se o.19- en o.21-rugbyspanne gespeel het, is op die toneel dood.

Hy het vermoedelik sy ouers te hulp gesnel toe hy geskiet is.

Me. Bam was ongedeerd.

Harris het gesê haar pa gaan volgende Dinsdag om 11:00 uit die NG Moedergemeente in Koppies begrawe word.

“My boetie (André) is ook op 8 Augustus daar begrawe.”

Sy het gesê dit is vir hulle baie sleg om eers haar broer en nou haar pa weens misdaad te verloor.

“Nou moet ons maar net aangaan,” het Harris bygevoeg.

Me. Mirna von Benecke, polisiewoordvoerder, het gesê afhangende van die oorsaak van Bam sr. se dood sal die polisie-ondersoek moontlik nou twee aanklagte van moord behels.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2379683,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.