Monday, 4 August 2008

‘Nee, my lief’...toe 7 skote

Mev. Maria Couto

Aug 03 2008 09:36:36:940PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Bejaarde man van Doornpoort, Pretoria, is Saterdagoggend om 02:20 sewe keer geskiet en sy vrou aangerand voordat die egpaar beroof is.

Mnr. Emilio Couto (67) het in ’n plas bloed in sy voordeur neergeval terwyl rowers hom nog drie keer geskiet het.

Sy vrou, Maria (59), wat hul slaapkamerdeur probeer toedruk het terwyl die rowers vier skote deur die deur geskiet het, het gesê haar man se laaste woorde was: “Nee, my lief.”

Die rowers het die diefwering voor die kombuisvenster oopgebreek en toe die kombuisdeur oopgesluit.

Haar man het eerste wakker geword. “Ek het gehoor hy sê ‘nee, my lief’ en toe word ek wakker, want ek het gedink hy het ’n nagmerrie.”

Toe sy besef wat aangaan, het sy die kamerdeur probeer toedruk. “Ek het in daardie stadium nie besef my man is nie meer saam met my in die kamer nie.

“Toe hoor ek vier skote soos wat hulle deur die kamerdeur op my geskiet het. Emilio het buite die deur met die aanvallers baklei.

“Dit was God se hand dat nie een van die skote my getref het nie.”

Volgens Couto het sy weer skote gehoor en toe was dit stil. “Die rowers het daarna die deur oopgeskop en haar met ’n vuurwapen teen die kop en op haar skouer geslaan.

“Ek het geskreeu en toe sê hulle ‘bly stil, bly stil’. Hulle het gevra waar is ons kluis, vuurwapens en selfone.

“Ek het gesê ons het nie ’n kluis of vuurwapens nie.”

Die rowers het die egpaar se vier selfone, juwele en ’n skootrekenaar gesteel. Hulle het egter die plasma-televisie laat val en dit het gebreek.

Nadat hulle gevlug het, het Couto die paniekknoppie gedruk. Volgens haar het die veiligheidsmaatskappy, Computer Alarm, nooit gereageer nie.

“Agttien jaar gelede is my ma, Deloris de Freitas (66), ook in haar huis in Johannesburg vermoor.

“Ek het selfs aan die teenmisdaadoptog deelgeneem, maar hulle (die moordenaars) kom net weer terug,” het Cuito huilend gesê.

“Ek het ’n wonderlike man gehad. Hy was altyd beskermend en liefdevol. Ek gaan hom mis.”

Die polisie het reeds ’n verdagte, wat ’n tyd gelede vir die egpaar gewerk het, vir ondervraging aangekeer.

’n Werknemer in Computer Alarms se beheerkamer het gesê die eienaars is nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2369269,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.