Saturday, 30 August 2008

Polisie skiet slagoffers

Egpaar per abuis ernstig gewond. Die polisie ondersoek gister die Kotzés se motor wat vol gate geskiet is. Lees die berig. Foto: Alan MurdochMev. Millie Kotzé, haar man, Jan, en hul seun, Stephan.

Aug 29 2008 09:52:25:883PM - (SA)

Gloria Edwards

’n Egpaar van die Oos-Rand veg om hul lewe nadat hulle per ongeluk deur die polisie geskiet is tydens ’n mislukte huisrooftog in Meyersdal, Alberton.

Mnr. Jan Kotzé (48) en sy vrou, Millie (50), eienaars van die onderneming Manhattan Ice Tea, is gewond terwyl hul seun, Stephan (21), en dogter, Janine (30), eergisteraand ure lank deur vyf rowers in hul huis in Izak de Villiersstraat aangehou is.

Stephan het gister vertel hoe hy en sy suster aangehou is voordat die polisie op sy ouers losgebrand het. “Ons het net heeltyd hardop gebid en toe in tale met God gepraat . . . ”

Mnr. Josie Raath (45), uitvoerende regisseur van Radiokansel en Millie se broer, het gesê sy suster en swaer het net by die huis gekom van ’n vakansie toe die voorval gebeur het.

“Toe hulle by die huis intrek, het die rowers van die balkon af op hulle begin skiet. Hulle het toe uitgejaag om weg te kom en reg in die vuurlinie van die polisie, wat hulle seker vir die rowers misgis het, beland. Daar is van albei kante af op hul Land Cruiser losgebrand. Ek het 43 koeëlgate in dié motor getel.”

Volgens Raath is sy suster vyf keer in die maag en sy swaer tien keer in die bolyf getref.

Albei is na die Unie-hospitaal geneem, waar hulle in die hoësorgeenheid behandel word.

’n Bewoë Stephan het gesê hy is omstreeks 20:00 in die gesin se huis oorrompel. “Ek was besig om vir my vlieënierslisensie te swot toe een van hulle ’n pistool teen my kop druk. Hy het my met ’n spanner geslaan, my hande en voete vasgebind en na ’n kamer gesleep. Hulle wou juwele en geld hê.”

Janine het toe glo by die huis aangekom en is deur die rowers oorval en vasgebind.

Omstreeks 23:00 het hul ouers by die huis aangekom en het die skietgeveg uitgebreek.

Stephan het sy suster op die balkon gevind waar sy vasgebind gelê het. “Ek het probeer om die toue om haar los te byt totdat iemand ons kom help het.”

Die rowers, wat Stephan se RunX-motor met die gesin se juwele, wapens, skootrekenaars, kluise en ander items volgepak het, het met leë hande gevlug.

Tussen meer as 100 patroondoppies wat gister die straat voor die Kotzés se huis vol gelê het, het bure vertel hoe hulle nou vir hul lewens vrees.

Mnr. Coenie Strydom, ’n buurman, het beweer dat dié voorval die agtste in dieselfde straat die afgelope jaar is.

Die Kotzés se ander dogter, mev. Adelle Sinden (25), het gister die polisie geblameer dat haar ouers om hul lewe veg.

“Hulle kon waarskuwingskote geskiet het. Dit was nie nodig om die motor flenters te skiet nie.”

Supt. Eugene Opperman, provinsiale polisiewoordvoerder, het egter gesê die voorval word as ’n ongeluk beskou.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2385135,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.