Wednesday, 20 August 2008

Rooskweker in huis geskiet, vir dood gelaat

Taschner van Ludwig Rose is gisteroggend in sy huis oorval en geskiet. Foto: Alet Pretorius

Aug 19 2008 09:26:14:983PM - (SA)

Virginia Keppler

Mnr. Ludwig Taschner (66), bekende rooskweker van Ludwig Rose in Pretoria, is gisteroggend deur twee gewapende mans in albei sy arms en bors geskiet en vir dood agtergelaat.

Taschner is omstreeks 04:00 in sy huis in Haakdoringlaagte, noordoos van Pretoria, in sy slaapkamer oorval nadat die rowers deur ’n venster gebreek het en toe sy slaapkamerdeur “met geweld oopgebreek” het.

“Hulle het ook die ligskakelaar stukkend geslaan,” het me. Heike Taschner (27), sy dogter, gesê.

Mnr. Taschner word in die Montana-hospitaal se waakeenheid behandel.

“Hy is twee keer in die regterarm geskiet en een keer in die linkerarm. ’n Koeël het ook sy borskas deurboor.”

Me. Taschner het gesê haar pa se longe het ook platgeval en daar was bloed in sy longe nadat die rowers hom hard met ’n rewolwer teen die bors geslaan het.

Konst. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, het gesê die rowers het juwele, ’n televisie, ’n skootrekenaar en vuurwapens gesteel.

Me. Taschner het gesê sy en dr. Christian Jeske (28), haar lewensmaat, wat in ’n kothuis langs haar ouerhuis woon, het wakker geskrik toe hulle ’n skoot hoor afgaan het.

“Ons het deur die venster geloer. Ons het ’n man uit die huis sien kom,” het sy vertel.

Die paartjie het daarna hul seun, Alexander (2), beveel om in die stort te gaan wegkruip omdat hulle bang was die rowers is op pad na hul huis.

“Ons het nog twee skote gehoor en toe weet ek hulle skiet my pa. Ek het begin bid dat hy net moet bly leef.”

Jeske het intussen die polisie en ’n ambulans ontbied. Hy het ook die voormanne op die plaas wakker gebel.

Terwyl hy op die foon was, het me. Taschner haar pa in die voordeur sien staan. “Sy arms was afgeskiet . . . en die bloed . . . ” het sy vertel.

Hulle het haar pa na hul kothuis geneem waar Jeske die bloeding probeer stop en verbande om die wonde gedraai het. Daarna het Jeske met mnr. Taschner hospitaal toe gejaag.

Me. Taschner en haar seun het agtergebly en op die polisie gewag.

Mnr. Taschner se vrou, Pamela (55), was by haar suster in Johannesburg. “Ek is baie bang, bang dat sy toestand sal versleg,” het sy gesê.

Die egpaar se seun van Durban, Halmar (28), het gisteroggend by die hospitaal aangekom om sy ma en suster by te staan.

Mnr. Taschner sr. was veral bekend om die rose wat hy vir bekendes soos Mimi Coertze gekweek het.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2379000,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.