Saturday, 23 August 2008

Rowers skiet oudtaakmaglid 9 keer op kleinhoewe

Aug 22 2008 11:08:47:993PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Voormalige lid van die polisie se taakmag is gisteroggend op sy kleinhoewe in Pyramid, noord van Pretoria, nege keer deur vyf rowers geskiet. Sy vrou is een keer in die nek geskiet.

Mnr. Michael van der Westhuizen (39) en sy vrou, Shar-maine (38), is gister om 04:00 in hul slaapkamer oorval.

Mnr. Van der Westhuizen het een van die verdagtes tydens ’n skietgeveg raak geskiet.

Hy het die verdagte swaar gewond, maar dié het gevlug.

Mnr. Van der Westhuizen is in die maag, bene en arms getref. Dokters by die Akasia-hospitaal in Pretoria het ’n deel van sy dikderm verwyder.

Die koeël wat mev. Van der Westhuizen in die nek getref het, sit in haar long vas. Sy word in die waakeenheid van die Monta-na-hospitaal in die stad behandel. Haar toestand is stabiel.

Mnr. Van der Westhuizen se broer, Casper, het gesê die rowers het by ’n sitkamervenster ingebreek. “Hulle het Michael-hulle in die slaapkamer verras, waarna hulle geskiet het.”

Die rowers het toe met van die egpaar se bankkaarte gevlug.

Die egpaar se dogter, Norisca (16), was nie tuis nie. Sy het by haar ouma oornag.

Die voorval het sowat 5 km van Ludwig Roses plaasgevind waar mnr. Ludwig Taschner (66), bekende rooskweker, Maandagoggend deur twee rowers in die slaapkamer oorval en in albei arms geskiet is.

Konst. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die Sinoville-polisiekantoor in die stad het kort ná die voorval by die Van der Westhuizens drie van die verdagtes gearresteer.

Maleka het gesê die drie verskyn oormôre in die Pretoria-Noord-landdroshof.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2381064,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.