Sunday, 7 September 2008

Man help grypdief vang, self aangekla

Mnr. Stefan Kloppers het ’n meisie te hulp gesnel en ’n grypdief platgetrek wat haar van haar selfoon beroof het, maar nou word dié held aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Sonja Carstens

Pretoria

Mnr. Stefan Kloppers het ’n meisie te hulp gesnel en ’n grypdief platgetrek wat haar van haar selfoon beroof het, maar nou word dié held aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Kloppers (34) van Cullinan se heldedaad op 20 Julie vanjaar het binne minute in ’n nagmerrie verander toe hy in hegtenis geneem is.

Sy skoenveters en gordel is van hom afgeneem en hy is twee dae lank in ’n sel by die Brooklyn-polisiekantoor toegesluit voordat hy op borgtog van R2 000 vrygelaat is.

“Nooit wéér in Suid-Afrika help ek ’n slagoffer van misdaad nie,” het Kloppers die afgelope week gesê nadat hy vir die tweede keer in die Hatfield-gemeenskapshof verskyn het.

Kloppers word vervolg hoewel die polisie nog nie sy “slagoffer”, die vermeende grypdief, se verklaring afgeneem het nie. Die polisie het ook nog nie die vermeende grypdief in hegtenis geneem vir die roof van die selfoon nie.

Kloppers het op dié gewraakte nag saam met vriende in ’n re-staurant in Hatfield gaan eet. Hulle was op pad na sy motor toe hulle sien hoe ’n lap-swaaier die meisie lastig val.

“Ek het gedink hy soek geld en het aangestap. Skielik het die meisie gegil en geskree hy het haar selfoon. Ek het hom agternagesit en hom getekkel soos wat ek dit gedoen het toe ek op skool rugby gespeel het,” vertel Kloppers.

Hy het die selfoon uit die man se hand geneem en dit aan die meisie terugbesorg. “Hy het nie teëgestribbel nie,” sê Kloppers.

Volgens hom het verskeie omstanders nader gehardloop. Kloppers het in sy motor geklim en gesien hoe van die omstanders die grypdief skop.

“Toe ek by die parkeerterrein wou uitry, het vyf veiligheidswagte in ’n motor my voorgekeer en gesê ek moet net daar bly, want hulle het ‘presies gesien’ wat gebeur het.

Die polisie is ontbied.

“Die polisie het my gevra om agter hulle aan te ry na die polisiekantoor. Ek het dit gedoen onder die indruk dat ek ’n verklaring sou aflê.

“By my aankoms is ek in hegtenis geneem,” vertel Kloppers.

Mnr. Dirk Human, Kloppers se regsverteenwoordiger, het die afgelope week beswaar gemaak toe die staat wéér gevra het dat die verhoor uitgestel word vir ’n verklaring van die vermeende grypdief.

Die hof het gehoor die polisie het die “slagoffer” se adres, maar het hom nog nie opgespoor nie.

Volgens Human het die polisie meer as ses weke tyd gehad om dit te doen. “Die sogenaamde slagoffer is ook ’n vermeende grypdief,” het Human aangevoer.

Hierop was landdros Christo-pher Chokwe se antwoord: “As iemand jou foon steel, rand jy hom nie aan nie. Jy bel die polisie.”

Chokwe het die verhoor vir verdere ondersoek uitgestel.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2389299,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.