Monday, 8 September 2008

Rowers skiet pa van België voor seun

Sep 07 2008 09:31:30:067PM - (SA)

Hilda Fourie

’n Pa wat vir sy seun se 18de verjaardag van België gekom het, is eergisteroggend voor dié seun doodgeskiet.

Nadat rowers die 45-jarige pa in ’n veiligheidskompleks in Equestria, in die ooste van Pretoria, vermoor het, het hulle die seun en sy drie vriende, onder wie ’n 17-jarige meisie, ’n uur en ’n half aangehou en aangerand.

Hulle het ook die meisie voor haar broer en kêrel onsedelik aangerand.

Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, wou nie die man se naam bekend maak nie omdat al sy naasbestaandes nog nie ingelig is nie.

Die meisie se ma het gisteraand aan Beeld vertel sy was salig onbewus van wat in die huis oorkant haar gebeur het. Sy wil anoniem bly om haar kinders se identiteit te beskerm.

Volgens die ma het die oorledene Woensdag in Suid-Afrika aangekom om by sy seun te wees wat Donderdag 18 jaar oud geword het.

“Die seun en sy pa het Vrydagaand by een van die seun se vriende gaan kuier. Dié vriend (19) is my dogter se kêrel en bly oorkant ons. My seun (17) en dogter is ook na die vriend toe.

“Om 00:10 het drie gewapende mans die huis ingestorm. Ons dink hulle het deur die deur van die motorhuis ingeglip.

“Toe hulle in die huis kom, het die man opgespring. Hulle het hom onmiddellik in die bors geskiet.

“Daarna het hulle die kinders met kledingstukke, insluitend ’n baadjie van een van die rowers waarop ‘Gert’ staan, vasgebind.

“Die kinders kon hoor hoe die man langs hulle doodgaan.

“Die seun wat verjaar het, het die rowers die heeltyd gesmeek dat hy sy pa wou help, maar hulle wou nie.”

Volgens die ma het die rowers die heeltyd gedreig hulle gaan haar dogter verkrag.

Die meisie se broer het gesmeek dat hulle niks aan sy suster moet doen nie, terwyl die meisie se kêrel daarop aangedring het dat hulle alles moet vat en net moet loop.

Die rowers het die meisie voor die seuns onsedelik aangerand.

Die rowers het die seuns gereeld oor die kop geslaan met ’n kledingstuk waarin ’n harde voorwerp was.

Hulle het te voet gevlug met ’n skootrekenaar, klere en alkohol nadat hulle nie die motor aan die gang kon kry nie.

Die ma het ADT en Netcare vir hul vinnige reaksie geprys, maar tog het sy gesê sy het ’n sigaretstompie en ’n patroondoppie op die toneel gevind toe sy dit gistermiddag laat skoongemaak het.

“Ek is woedend,” het sy gesê. “ ’n Man is vermoor en kinders geterroriseer. Hierdie is forensiese bewyse. Hoe kan die polisie dit op die toneel agterlaat?”

Sepato het gesê ’n saak van moord en huisbraak word ondersoek. Hy kon nie kommentaar lewer oor die bewysstukke wat die ma op die toneel gevind het nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2389839,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.