Sunday, 26 October 2008

Aanklaer bedank ná aanval in hofgebou

Me. Marissa Booyse, die aanklaer wat wonderbaarlik oorleef het nadat sy veertien keer met 'n Okapi-knipmes gesteek is.

25/10/2008 20:37 - (SA)

Sonja Carstens

Pretoria

Me. Marissa Booyse, die beheeraanklaer van die Pretoriase landdroshof wat 14 keer met ’n Okapi-knipmes gesteek is, het besluit om haar loopbaan vaarwel toe te roep.

Booyse het bedank twee jaar nadat sy in September 2006 wonderbaarlik oorleef het toe Sipho Mnisi haar wreed in haar kantoor op die grondvloer aangeval het om haar van haar selfoon te beroof. Die ma van twee jong kinders was sedertdien te getraumatiseer om na haar pos terug te keer.

“Ek sien net nie daarvoor kans om in my kantoor in die hofgebou te gaan sit wetende dat ek enige tyd wéér aangeval kan word omdat veiligheidsmaatreëls gebrekkig is nie,” sê sy. Die dag toe Booyse aangeval is, het die hofgebou se metaalverklikkers nie gewerk nie.

Booyse moes vier operasies aan haar regterhand ondergaan om te keer dat haar vingers krom trek.

Mnisi is verlede jaar in die Pretoriase hooggeregshof vyftien jaar tronk toe gestuur weens die aanval.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2415882,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.