Friday, 3 October 2008

Bylaanval: Tiener dalk verlam

Me. Charmaine Pienaar (18).

Oct 02 2008 09:31:45:340PM - (SA)

Sonja van Buul

Vanderbijlpark. – Die jong vrou wat eergister onder meer ’n skedelfraktuur opgedoen het nadat ’n rower haar en haar ma wreed aangeval het, gaan waarskynlik nie weer kan loop nie.

“Ek het gedink dit is ’n nare droom wat nou-nou tot ’n einde gaan kom.”

Só het me. Charmaine Pienaar (18) aan haar pa, Danie (44), oor die bylaanval waarin haar ma, Heila (41), doodgekap is, gesê kort voordat sy gisteroggend ’n nege uur lange operasie in die Vereeniging Medi-Clinic ondergaan het.

Die operasie is gedoen om die skade aan haar skedel en senuwees te herstel. Sy het ook vertel dat sy in dié “nare droom” net haar “mamma wou beskerm”.

Sy het etlike ure hulpeloos by die gesin se skroothandel-onderneming in Waldrift langs haar vermoorde ma se lyk gelê voordat haar pa en broer, Frikkie (21), op dié grusame toneel afgekom het.

“Charmaine het tydens die aanval ’n skedelbreuk opgedoen en sy is verlam in albei haar bene,” het mnr. Marius Vosloo van Meyerton, ’n woordvoerder van die Pienaar-gesin, gesê.

Ondanks die feit dat die gesin nie tot ’n mediese fonds behoort nie, het hulle besluit dat die ernstig beseerde Charmaine die operasie in dié private hospitaal moet ondergaan om sodoende die bes moontlike mediese sorg te verseker.

Volgens Vosloo kon haar dokters die familie voor die operasie geen waarborge gee dat Charmaine weer sal loop nie.

“Dit is volgens hulle in God se hande,” het hy gesê.

Volgens Vosloo is Charmaine se wangbene ook versplinter en haar kakebeen gebreek.

“Charmaine het kort ná die aanval gesê dat ’n man hulle met ’n byl aangeval het, maar ek dink eerder dat hy hulle met ’n stuk yster geslaan het,” het Vosloo gister gesê.

“Die man het my ma, volgens Charmaine, belowe om hulle geen leed aan te doen as hulle hom geld gee nie, maar hy het hulle nogtans aangeval,” het Pienaar jr. gesê.

Beeld-lesers wat die Pienaar-gesin wil help om die mediese onkoste te dek, kan Vosloo by 083 311 7030 skakel.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2403686,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.