Wednesday, 15 October 2008

'Niemand verdien om so te sterf'

Oct 14 2008 08:33:58:823PM - (SA)

Jeanne-Marie Versluis

Niemand verdien om te sterf soos mev. Kathy Odendaal ’n jaar gelede in haar huis in Lynnwood Manor, Pretoria, doodgemaak is nie.

So het kapt. Peet van der Spuy van die polisie gister in die Pretoriase hooggeregshof getuig in die verhoor van Odendaal (51) se twee vermeende moordenaars.

Van der Spuy het getuig Odendaal is aan vernedering en marteling onderwerp.

Van der Spuy was in beheer van die insameling van forensiese getuienis vir die staat in die verhoor van mnre. Mohlatsi Alfred Matlala (23) en Jacob Tshepo Dithung (29).

Dié twee, wat beskuldig word van ’n misdaadtog oor ’n paar dae, het skuld ontken op 15 aanklagte elk. Twee hiervan is moordaanklagte. Hulle word ook daarvan aangekla dat hulle ’n Malawiese meisie, Alphiner Ndalana (3), probeer vermoor het deur haar tydens ’n rooftog by ’n huis in Lynnwood Manor in die rug te skiet.

Van der Spuy het getuig hy glo Odendaal is deur haar tuin gejaag voor sy in ’n waskamer in haar huis vermoor is.

Sy is kaal aangetref. Haar romp was om haar keel. Sy is verwurg en herhaaldelik gesteek.

Haar man, Gideon, bevelvoerder van ’n weermageenheid, het getuig hy was destyds vir werk in Kaapstad toe hy ’n oproep van die veiligheidsmaatskappy ontvang het dat die huis se alarm geaktiveer is.

Hy het dié firma gevra om na sy huis te gaan. Hy het sy vrou vergeefs probeer bel. Hy het toe hul huishulp, me. Fransina Majadibodu, op haar selfoon gebel. Dié het bang geklink en gesê sy kruip onder die bed weg en dat daar mense is wat sy vrou seermaak.

Hy het dadelik die veiligheidsmaatskappy en die polisie gebel en reëlings getref om huis toe te vlieg. Intussen het hy verneem sy vrou is dood.

Majadibodu het getuig sy was in die stort in haar kamer toe die alarm afgegaan het. Sy weet nie waar mev. Odendaal toe was nie. Die alarm het opgehou en sy het manstemme gehoor.

Mev. Odendaal het geskree: “Fransina, kom help my!”

Hierna was sy stil. Majadibodu het getuig sy is later na buite. Iemand het van agter uit die erf gekom, haar gevloek en gesê: “Ek sal jou doodmaak.”

Dié mens het oor die palissadeheining gespring. Sy het toe flou geword, het Majadibodu getuig. Majadibodu het getuig sy ken nie die beskuldigdes nie.

Die verhoor duur voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2409831,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.