Friday, 24 October 2008

Rowers skiet man vir 2 selfone en ’n paar biere

Mev. Veronica Roach Foto: Cornél van Heerden

Oct 21 2008 09:46:51:390PM - (SA)

Daniel Maluleke

“Hulle was nie hier om te steel nie, hulle was hier om te moor.”

So het ’n hartseer mev. Veronica Roach gesê nadat ’n groep rowers haar man, Rudi (50), gister in die vroeë oggendure op hul hoewe by Kameeldrift, noordoos van Pretoria, vermoor het – vir twee selfone en ’n paar blikke bier.

Mnr. Roach was die afgelope vier jaar ’n onderwyser by die Hoërskool Zwartkop in Centurion.

Hy en sy vrou sou binne ’n paar maande hul 30ste huweliksherdenking gevier het.

Die egpaar se seun, Rüdiger (16), is drie keer raak geskiet.

Rüdiger, ’n leerling aan die Hoër Tegniese Skool John Vorster in Pretoria, is in ’n ernstige toestand in die Montana-hospitaal in die stad.

Mev. Roach en haar dogters, mev. Bonny Bekker (26) en me. Kira Roach (24), het vertel twee gewapende mans het hul huis sowat 45 minute ná middernag binnegestorm en na die egpaar se slaapkamer gegaan.

Mnr. Roach het begin skree. Die rowers het hom beveel om stil te bly en gesê as hy enige beweging maak, skiet hulle hom.

“My man het hard geskree en daarna het hulle skote begin afvuur. Hy is op slag dood,” het mev. Roach gesê.

Haar seun het van sy kamer gekom om ondersoek in te stel.

Mev. Roach het gesê sy het op die bed gelê. Die rowers het oor haar geklim om by haar seun uit te kom.

Die aanvallers het hom twee keer in die skouer geskiet. Rüdiger het weggehardloop.

“Hulle het hom agtervolg en nog ’n koeël het hom in sy rug getref.”

Die familie het gesê as Rüdiger nie so vinnig in sy ouers se kamer was nie, sou daar dalk iets met sy ma gebeur het.

Die rowers het met net die egpaar se selfone gevlug.

Later is leë bierblikke ook op die erf gekry. Die rowers het die bier uit ’n buite-yskas gevat.

Bekker en haar man bly in ’n ander huis op die hoewe.

Sy en haar man het die skote gehoor en gaan ondersoek instel.

“Ons kon ons oë nie glo dat my pa vermoor is nie.

Ons was ook erg geskok toe ons sien my broer is ook beseer. Ek en my man het dadelik die polisie ontbied en my broer hospitaal toe geneem,” het sy huilend gesê.

Kira was ten tyde van die aanval in Johannesburg.

Die polisie vermoed dieselfde aanvallers was ook betrokke by ’n mislukte huisrooftog in die gebied waartydens ’n man lig met ’n mes gewond is, asook ’n inbraak by ’n ander huis.

Niks is in dié inbraak gesteel nie, het konst. Mabel Sibanda, polisiewoordvoerder, gesê.

’n Geliefde onderwyser

Die personeel van die Hoërskool Zwartkop in Centurion is sprakeloos oor die sinlose moord op hul geliefde kollega, mnr. Rudi Roach (50), het dr. Dewald Strydom, skoolhoof, gister gesê.

Roach se seun, Rüdiger, ’n gr.10-leerling aan die Hoër Tegniese Skool John Vorster, Pretoria, is volgens Strydom met ’n handwapen en ’n haelgeweer geskiet. Hy lê in die waakeenheid van die Montana-hospitaal in die stad.

Strydom sê wyle Roach was ’n “alombeminde, immergroen mens met ’n passie vir die onderwys”.

“Sy vriendelikheid was aansteeklik en daarom (was) sy vriendskapskring groot. Hy was ’n ongekunstelde mens wat gemaklik met die lewe omgegaan het.

“Sy optrede was altyd koersvas en daar was ’n groot premie op sy leierskap. Hy was ’n aktiewe skrywer aan die suksesverhaal van die skool. Die wete dat die graf van Christus die geboorteplek is van ’n onwrikbare geloof in die hoop op ewige lewe, is vir die personeel en leerders van Hoërskool Zwartkop kosbaar.

“Christus is die argitek van lewe . . . Ons hou vas aan die wete dat die dood nie die finale sê het nie.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2413673,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.