Tuesday, 28 October 2008

Susters vrees vir lewens ná roof

Oct 27 2008 10:21:12:347PM - (SA)

Daniel Maluleke

Twee bejaarde susters vrees nou vir hul lewe nadat hulle verlede Saterdagoggend deur ’n inbreker met die vuiste bygedam en geskop is voordat hy hulle vasgebind en beroof het.

“Hy was wreed. Ons het net gebid dat hy ons nie doodmaak nie, want ons het nie krag gehad om teen hom te veg nie”, het me. Cecilia Kellerman (77) van Rooiribbokstraat in Waterkloofrif, Pretoria, gister gesê oor die aanval op haar en me. Martie Furstenburg (78).

“Hy het eers gemompel, ons daarna beveel om te lê en het ons vasgebind,” het Kellerman gesê.

Volgens Kellerman het die man, van tussen 20 en 25 jaar oud, hul sitkamer binnegestorm en kon hulle nie begryp hoe hy toegang kon verkry nie aangesien al die deure gesluit was.

“Daar was geen teken dat hy ingebreek het nie. Die manier hoe hy ingekom het, bly nog ’n raaisel.”

Die man was nie gewapen nie, maar hy het wel die twee toue waarmee hy hulle vasgebind het, saam met hom gebring.

Hy het die vroue gevra waar hul beursies is en het R2 000, ’n selfoon, ’n ring, ’n nuwe horlosie van R2 000 en kruideniersware gebuit.

Hy het sleutels gegryp en wou ook die kombuissleutels hê, waarmee hy na buite gevlug en verdwyn het.

“Toe hy uit was, het ons die polisie ontbied. Hulle was sowat tien minute later daar en het ’n verklaring kom afneem. Ons het nog nie terugvoer van hulle gekry nie en vrees nou dat ons weer deur misdadigers geteiken kan word,” het Kellerman gesê.

Albei Kellerman se hande is in die aanval beseer. Sy moes ook hospitaal toe geneem word vir harttoetse aangesien sy verlede jaar ná ’n hartaanval geopereer moes word. Haar suster is ook lig beseer.

Me. Sac Hardaker, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Ons ondersoek nog die saak.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2416972,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.