Sunday, 16 November 2008

Aanvaller in mond geskiet

15/11/2008 22:14 - (SA)

Willem Pelser

Ermelo

’n Plaasaanvaller is swaar gewond toe hy en sy makkers ’n boer van Ermelo wou beroof.

Mnr. Johan Cilliers, wat sowat 25 km van Ermelo boer, het verlede Sondagaand sy honde buite die plaashuis hoor blaf.

Hy het met sy vuurwapen gaan ondersoek instel, sê insp. Carla Prinsloo, ’n polisiewoordvoerder.

Toe hy buite kom, het iemand glo op hom geskiet en Cilliers het teruggeskiet.

Daarna het dit stil geword en Cilliers het hulp ontbied oor die tweerigtingradio.

Die polisie het opgedaag en ’n bloedspoor op die plaas opgemerk.

Die spoor het gelei na ’n nedersetting sowat 2 km van die plaas waar ’n swaar gewonde verdagte in hegtenis geneem is.

Die verdagte is onder meer in die mond getref.

Die vermoede bestaan dat hy een van die aanvallers op Cilliers se plaas was.

Prinsloo sê die verdagte is so swaar gewond dat hy nog nie ’n verklaring aan die polisie kon aflê nie.

Hy is aanvanklik in ’n plaaslike hospitaal opgeneem, maar later na ’n hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2427019,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.