Thursday, 27 November 2008

Bring die VN in, vra inwoners

Nov 26 2008 11:24:55:600PM - (SA)

Daniel Maluleke

Die Verenigde Nasies (VN) en die nasionale intelligensieagentskap (NIA) moet by die ondersoek na die misdaadvlaag in Kameeldrift en Cullinan betrek word, eis inwoners.

Hul tweede petisie binne drie weke is eergister aan die polisie oorhandig.

Die VN moet betrek word omdat die inwoners se ervaring met volksmoord vergelyk kan word, meen van die inwoners.

Dir. Mac McLachlan, die polisie se Gautengse hoof van misdaadvoorkoming, het hulle ten tyde van die oorhandiging toegespreek, maar die inwoners was steeds ontevrede.

“Ons het verwag ons sou terugvoering kry oor die petisie waarin ons ons pleidooie gelug het, maar tot almal se verbasing het McLachlan net beklemtoon dat die gemeenskap ook betrokke moet raak om misdaad in die gebied te bekamp,” het mnr. Nantes Kelder, hoof van gemeenskapsveiligheid van die burgerregte-organisasie AfriForum, gesê.

Toe die kommando’s ’n paar jaar gelede ontbind is, is ondernemings vir alternatiewe planne gegee, maar niks het daarvan gekom nie, het hy gesê.

Die inwoners meen die polisie doen nie genoeg om misdaad in die gebied te bestry nie en hul pleidooie val altyd op dowe ore. Ondanks hul optogte vroeër vandeesmaand meen hulle misdaad vier steeds hoogty daar.

Hulle eis onder meer dat die polisie in die gebiede ontplooi word en dat al die sake wat hulle by die polisie aangemeld het, deeglik ondersoek word.

Hulle meen NIA se betrokkenheid kan dalk ’n verskil maak.

Me. Lorna Daniels, NIA-woordvoerder, wou nie kommentaar lewer nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2433246,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.