Saturday, 8 November 2008

'Genoeg is genoeg,' sê inwoners oor misdaad

Een van die eise op 'n plakkaat tydens 'n optog deur inwoners van Kameeldrift en Cullinan. Foto: Herman Verwey

Nov 07 2008 09:25:08:830PM - (SA)

Daniel Maluleke

“Genoeg is genoeg, moord en verkragting: Hang hulle!!!”Dit is wat een van die betogers by die Cullinan- en Kameeldrift-polisiekantoor, noordwes van Pretoria, gister op ’n plakkaat geëis het.

Talle inwoners van dié gemeenskappe het sedert begin vanjaar onder geweld en misdaad deurgeloop. Dit sluit moord, verkragting en inbrake in.

“Meer as 30 voorvalle het sedert die begin van die jaar in die twee gebiede plaasgevind,” het mnr. Louis Meintjies, woordvoerder van die Cullinan-gemeenskap, gesê.

“Ons meld dit by die polisiekantoor aan, maar niks word daaromtrent gedoen nie.”

Die betogers het petisies aan die twee polisiekantore se bevelvoerders oorhandig omdat die Gautengse LUR vir veiligheid en sekuriteit en die provinsiale polisiekommissaris nie kon kom soos die gemeenskappe verwag het nie.

Die mense van Cullinan en Kameeldrift sê hul pleidooie by die polisiekantore het op dowe ore geval.

Hulle dring daarop aan om beskerm te word soos die Grondwet bepaal.

“Ons meen die gemeenskap het genoeg gedoen om hulself te beskerm. Dit is hoog tyd dat die regering iets doen. Die mense het genoeg gebloei,” het mnr. Nantes Kelder, hoof van gemeenskapsveiligheid by die burgerregte-organisasie AfriForum, gesê.

Leerlinge van skole in die gebiede het ook die petisie onderteken.

“Ons eis dat die misdaadintelligensie opgeskerp en uitgebou word, sowel as sigbare polisiëring om misdaad te bekamp,” het me. Marie Kruger, woordvoerder van die Kameeldrift-gemeenskap, gesê.

Misdade wat aangemeld word, moet behoorlik ondersoek word, het sy gesê.

Luidens die petisie eis die beswaardes voor of op 21 November ’n formele antwoord op hul griewe.

“Ons gaan die petisie deeglik bestudeer.

“Daarna sal ons na die organiseerders toe terugkom,” het supt. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder, gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2422903,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.