Sunday, 9 November 2008

Man (19) 33 j. tronk toe

08/11/2008 20:57 - (SA)

Willem Pelser

’n Tienerseun wat ’n man van Sabie koelbloedig voor sy twee klein dogtertjies doodgeskiet het, is die afgelope week in die rondgaande hof in Nelspruit tot 33 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Godfrey Mokoena (19) is skuldig bevind aan moord op mnr. Wikus Burger (31) in 2007. Mokoena het tereggestaan op aanklagte van moord, gewapende roof, poging tot moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen.

Mokoena en twee handlangers het toegeslaan tydens ’n verjaardagpartytjie vir Burger se skoonsuster, me. Stephanie Maritz, op ’n hoewe buite Sabie.

Hulle het Burger se vrou, Irma, in die kombuis van ’n kroeg op die hoewe oorval en haar handsak geëis. Toe Burger die lawaai in die kombuis hoor, het hy ondersoek ingestel.

Mokoena het vermoedelik geskrik toe hy Burger sien en het hom tromp-op in die gesig geskiet. Die rowers het met die handsak gevlug.

Mokoena sal 20 jaar van sy vonnis moet uitdien voor hy vir parool in aanmerking kan kom. Sy handlangers is nooit opgespoor nie.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2423166,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.