Monday, 24 November 2008

Man op plaas geskiet, sterf op bed

Nov 23 2008 08:45:38:873PM - (SA)

Hilda Fourie

’n Bejaarde man wat vyf keer deur rowers raak geskiet is, het na sy kamer gekruip, op sy bed gaan lê en gesterf.

Dit is hiér, op ’n plaas by Bultfontein, noord van Pretoria, dat vriende van mnr. Frans Jordaan (63) hom Saterdagmiddag omstreeks 12:00 gevind het.

Jordaan het sementprodukte gemaak en geïnstalleer.

Mnr. Francois Jordaan jr. (39) het gister aan Beeld gesê hy het Vrydagaand omstreeks 18:15 nog met sy pa gepraat toe dié op pad plaas toe was. Toe was niks nog fout nie.

Toe Jordaan Saterdagmiddag op sy pa se plaas kom, was die tyd van die eerste oproepe wat Jordaan sr. op sy selfoon gemis het 19:00.

Sy pa se inkopiesakkies het ook nog op die rak gestaan waar hy dit gesit het toe hy sy huis binnegegaan het.

“Hy moes by die huis gekom, oopgesluit, sy kossakke neergesit het en toe oorval geword het,” het Jordaan gesê.

“Met die skietery moes daar ’n onderonsie gewees het, want daar is merke in die bloed op die vloer.

“My pa is ’n ou wat sou terugbaklei.

“Volgens die bloedmerke op pad na sy kamer toe en die handmerke teen die muur, lyk dit of hy na sy kamer gegaan het, op sy bed gaan sit, agteroor gelê het en daar dood is.”

Volgens Jordaan moes sy pa tussen 18:30 en 19:00 gesterf het.

Jordaan sr. is vyf keer geskiet – drie keer in die bors en twee keer in die rug.

Saterdagoggend het vriende van Jordaan sr., mnr. Tuan en mev. Amanda Kriel, bekommerd geraak toe Jordaan sr. nie teëls by hulle kom aflaai het nie, het sy seun gesê.

Hulle is omstreeks 12:00 na sy huis.

Dáár was die skuifdeur oop met die sleutel in die deur.

Die Kriels het hom dood op sy bed gekry en het sy seun en die polisie laat weet.

Volgens Jordaan jr. was van sy pa se elektroniese ware in sakke gelaai, terwyl ander ware se drade opgerol was toe hy by sy pa se huis gekom het.

Die rowers het net met Jordaan sr. se vuurwapens en Nissan-bakkie gevlug. Dié bakkie is later in Soshanguve gevind, sowat 15 km van waar Jordaan dood is.

Jordaan sr. se selfoon en bakkiesleutels was steeds in die huis toe sy familie, vriende en die polisie op die toneel gekom het.

“My pa was my pêl gewees,” het Jordaan gesê.

“Hy het my in moeilike tye bygestaan.

“Dit was verskriklik om die oproep te ontvang dat my pa dood is. Dis nóg ’n plaasmoord.

“ ’n Mens weet nie of dit sy werknemers was of net ’n diefstal nie.

“Ek is kwaad. Woedend.

“ ’n Hele onderneming se swart werknemers sit nou sonder werk en my pa is weg.

“Wat help dit? Vir wie het dié moord iets in die sak gebring?

“Ons kan nie op dié trant voortgaan nie. So ’n voorval bring net allerhande rassistiese gedagtes na vore,” het Jordaan gesê.

Behalwe vir sy seun, laat Jordaan sr. ook drie dogters, Mia (38), Elsofie (34) en Hanchen (29), en sy gewese vrou, Lieschen (62), agter.

Die begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

Volgens kapt. Lydia Ditinti, polisiewoordvoerder, word die moord ondersoek.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2431354,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.