Saturday, 8 November 2008

Mes tref 12 keer; sy veg terug

Nov 07 2008 09:24:55:580PM - (SA)

Linda de Beer

Coligny. – ’n Bejaarde boervrou van dié distrik het gisteroggend ’n plaasaanvaller doodgeskiet en nog een vermoedelik gewond ná ’n verbete geveg waarin haar man vermoor is.

Mev. Hannatjie Stander (68) is 12 keer met ’n mes gesteek voordat sy met ’n .22-rewolwer op haar aanvallers losgebrand het. Haar man, Sias (69), is in ’n ander vertrek dood gevind met ’n laken oor sy kop en verskeie steekwonde aan sy lyf.

Die Standers is omstreeks 04:00 deur vermoedelik drie mans in hul slaap oorrompel, het insp. Carina Fourie, polisiewoordvoerder, gesê. Die mans het skuifraamruite op ’n toegeboude stoep uitgehaal om toegang tot die huis te verkry.

Alles dui daarop die egpaar, wat in aangrensende kamers geslaap het, het verbete teen hul aanvallers geveg.

Mev. Stander het in ’n stadium daarin geslaag om haar in haar kamer toe te sluit, maar die deur is afgebreek. Dit is vermoedelik tóé dat sy op hulle losgebrand het. Een aanvaller is regs in die bors getref. Die polisie het hom sowat 100 m van die huis gekry waar hy in die veld aan sy wond beswyk het.

’n Haelgeweer van die egpaar, mev. Stander se selfoon, twee speelgoedpistole en R620 wat vermoedelik uit mev. Stander se handsak gevat is, is by die dooie plaasaanvaller gekry.

Mev. Stander het die polisie van ’n selfoon af gebel nadat sy daarin geslaag het om by die agterdeur uit te vlug.

Volgens Fourie vermoed mev. Stander sy het ’n tweede verdagte ook raak geskiet.

’n Groep van 13 boere uit die omgewing het later gisteroggend op die plaas opgedaag om na die gewonde aanvaller en sy makker te help soek, maar hulle was teen druktyd nog op vrye voete.

Die polisie ondersoek ’n moontlike verband tussen gisteroggend se aanval en ’n voorval in Desember verlede jaar toe mnr. Stander by die skuur op die werf oorrompel en aangerand is. Mev. Stander het toe die egpaar se honde op die aanvallers gesit.

Mnr. Stander sou Maandag in die landdroshof in Coligny getuig het in die verhoor van twee verdagtes wat in verband met dié voorval aangekeer en nog in aanhouding is, het Fourie gesê.

Mev. Stander is ná gister se voorval in die Coligny-hospitaal behandel vir agt steekwonde aan haar bene, twee aan die linkerarm en twee aan die kop. Sy het later by vriende in dié dorp aangesterk. Sy is erg getraumatiseer, het Fourie gesê.

Die Standers het nie kinders nie. Mnr. Gerhard Jacobs, ’n boer en vriend, het gesê mnr. Stander se Brahman-stoetbeeste was soos sy kinders. Hy was op sy gelukkigste tussen dié diere.

Mev. Stander was lank die sekretaresse van die Coligny-boerevereniging.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2422931,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.