Wednesday, 12 November 2008

Oudpolisieman sê arrestasie was ‘heksejag teen wit lede’

Nov 11 2008 08:28:59:430PM - (SA)

Hilda Fourie

Hy het net die heeltyd gebid die misdadigers saam met wie hy aangehou is nadat hy onregmatig gearresteer is, sal nie uitvind hy is ’n polisieman nie.

Adv. Marius Bouwer (47), voormalige operasionele bevelvoerder van die polisie se teen-korrupsie-eenheid, het gister so in die Pretoriase hooggeregshof getuig.

Hy eis R649 000 weens onregmatige arrestasie en kwaadwillige vervolging in dié hof van die minister van veiligheid en sekuriteit en die kommissaris van die polisie. Bouwer het getuig sy arrestasie vroeg in 2003 was “ ’n heksejag teen sekere blanke lede in die polisie”.

“Ek het ’n oproep ontvang wat vir my bevestig het dié heksejag is deur asst.komm. Mpho Mmu-tle (nou hoof van gemeenskapsveiligheid in die Tshwane-metroraad) geïnisieer. Daar is aan my melding gemaak dat ek die volgende persoon is wat gearresteer sal word.”

’n Lyk is in Januarie 2002 op Bouwer se plaas Soetdorings by Bultfontein, noord van Pretoria, gekry.

’n Klopjag is in Desember 2002 op die plaas uitgevoer. Die deure op die perseel is oopgebreek en beskadig.

Teen einde 2002 het die spanning vir Bouwer “ondraaglik” geword. “Jy wag elke dag dat die mense (’n taakspan wat aangestel is om polisielede te ondersoek) by jou deur instap en jou arresteer. Onregmatig. Dít was hul modus operandi,” het Bouwer getuig.

Oor die Kerstyd was Bouwer vyf dae in die Vista-kliniek.

Op 20 Januarie 2003 het dir. Vincent Ntengu, toe area-speurhoof van Pretoria, vir Bouwer gesê hy het ’n waarskuwingsverklaring van hom oor ’n moordklag nodig. Hy is op 27 Januarie 2003 gearresteer vir die moord op die man wie se lyk ’n jaar vantevore op sy plaas gevind is.

Bouwer het eers later gehoor daar word beweer hy het die oorledene agter sy motorfiets aangesleep en hom ’n onbekende vloeistof ingegee het wat sou verseker dat die lyk vinniger ontbind.

Hy is by drie verskillende polisiekantore aangehou, in een geval saam met 11 “misdadigers soos moordenaars, gewapende rowers en huisbrekers”, het Bouwer getuig.

Vier dae ná sy arrestasie het ’n landdros van die streekhof in Pretoria-Noord hom op eie verantwoordelikheid vrygelaat.

In dié tyd het hy met tye vir sy lewe gevrees, ander tye heeltemal beheer verloor en die deure van die selle geskop en geslaan, het Bouwer getuig. Soms het hy soos ’n klein seuntjie gehuil.

“Daar is nie ’n groter vernedering as om toegesluit te word en jy weet daar is geen saak waarby jy betrokke was nie.”

Die moordklag teen Bouwer is twee maande later teruggetrek.

Die verweerders het dít erken, maar gesê die saak word steeds ondersoek.

Hulle ontken dat daar nie gronde was om Bouwer te arresteer nie.

Bouwer is in 2003 weens mediese redes uit die polisie ontslaan.

Die saak duur voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2424758,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.