Sunday, 9 November 2008

Polisie wil René Burger se verkragtingsaak sluit

Schalk Burger, Springbokrugbyspeler, saam met sy suster, Rene, wat beweer het sy is in Mei vanjaar ontvoer en verkrag. (Foto: Sharief Jaffer)

08/11/2008 20:56 - (SA)

Marlene Malan & Sonja Carstens

Kaapstad en Pretoria

Die polisie is op die punt om die ondersoek na die bendeverkragting van me. René Burger (20), suster van die Springbok-rugbyspeler Schalk Burger, te sluit sonder dat ’n verdagte aangekeer is.

Dir. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, het by navraag aan Rapport gesê die saak is “deeglik ondersoek” en die dossier is na die kantoor van die direkteur van openbare vervolging (DOV) in die Wes-Kaap verwys vir ’n besluit.

Rapport verneem die polisie voer aan daar is nie getuienis wat Burger se klag dat sy op 5 Mei ontvoer en verkrag is, ondersteun nie.

Na verneem word het die polisie die DOV gevra om te besluit of die dossier afgesluit kan word omdat daar geen verdagte(s) is om aan te kla nie.

Die donkerkop-student se beweerde verkragting in ’n verlate murasie in die Wes-Kaap het destyds wêreldwyd opslae gemaak, veral weens haar broer se internasionale roem as rugbyspeler. In die buitelandse media is oor en oor geskryf dat niemand Suid-Afrika se aaklige misdaad gespaar word nie – nie eens die suster van ’n wêreldberoemde sportheld nie.

Oud-pres. Nelson Mandela was so aangegryp deur die tragedie dat hy René gebel en haar in ’n gesprek van 20 minute bemoedig het.

Terwyl emosies oor die beweerde verkragting gaande was, is die murasie waar dit sou gebeur het enkele dae ná die voorval met die grond gelyk gemaak.

Vandag, ses maande ná ’n intensiewe polisie-ondersoek, is niemand aangekeer of verdagtes geïdentifiseer nie.

’n Identikit van een van die beweerde aanvallers wat kort ná die voorval wyd in die media versprei is, het geen resultate opgelewer nie.

Mnr. Tlali Tlali, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NV), het bevestig die DOV het Burger se polisiedossier ontvang vir oorweging.

“Die direkteur van openbare vervolging is besig om die dossier te bestudeer en ’n besluit daaroor sal geneem word sodra ons gereed is,” sê Tlali.

Nóg Tlali nóg De Beer het gereageer op Rapport se skriftelike vraag of die klag ongegrond is.

De Beer sê sy volstaan met haar antwoord, wat deur die polisiekommissaris van die Wes-Kaap goedgekeur is.

Rapport verneem ’n omvangryke interne ondersoek is aan die gang nadat dit in die media uitgelek het dat die polisie die ondersoek wil afsluit.

Mev. Myra Burger, René se ma, het gister aan Rapport gesê die familie dra nie kennis dat die dossier aan die DOV voorgelê is om dit af te sluit nie. “Ons het geen kommentaar nie,”

Mnr. Schalk Burger sr., René se pa, het ook gesê hy is nie bewus daarvan dat die polisie die ondersoek wil afsluit nie. Hy het wel geweet die dossier is aan die DOV voorgelê.

“René skryf hierdie week nog twee vraestelle en ons wil haar so kalm moontlik hou daarvoor,” het Burger sr. gesê.

René het beweer drie mans het haar op 5 Mei op die parkeerterrein van die Tygerberg-kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland ontvoer. Een van haar aanvallers het haar glo met die vuis bewusteloos geslaan.

Volgens Burger het die mans die Stellenbosch-afrit van die N1-snelweg af geneem en haar na die murasie op die Joostenberg-vlakte gebring. Daar is sy na bewering op ’n gekraakte sementblad tussen lang gras en hope rommel verkrag. Dis sowat 15 km van Stellenbosch af.

Burger het beweer sy is ure lank aangehou. Die aanvallers het glo haar handsak en motorsleutel in haar motor gelos en sy kon wegkom.

Adv. Jan Henning, SC, gewese adjunkhoof van die NV, het by navraag aan Rapport verduidelik dit is beleid dat alle verkragtingsake aan die DOV voor-gelê word vir ’n beslissing of die dossier afgesluit mag word. ’n Staatsaanklaer besluit dan of daar ’n redelike vooruitsig op suksesvolle vervolging is of nie.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2423241,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.