Sunday, 16 November 2008

Polisielid vas ná skietery uit kar op N3

15/11/2008 22:14 - (SA)

Gerhard de Bruin

Durban

’n Konstabel verbonde aan die polisie se BBP-eenheid is gister in hegtenis geneem nadat hy glo vanuit ’n bewegende BBP-voertuig met sy vuurwapen op ’n onskuldige motoris op die N3 naby Pietermaritzburg losgebrand het.

Dit was glo nadat die motoris nie vinnig genoeg uit sy baan kon padgee nie.

Die motoris se een motorband is in die voorval stukkend geskiet en hy het daarna beheer oor sy voertuig verloor en reg van voor met ’n bakkie in die aankomende baan gebots.

Volgens supt. Henry Budhram, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, was die bestuurder van ’n Mazda3 op pad na Pietermaritzburg toe die voorval gebeur het.

“ ’n Vangwa van die polisie se ongelukeenheid het agter die Mazda gery toe ’n swart Volkswagen Golf met ’n flitsende blou lig en swart vensters hulle van agter af ingery het.

“Die polisievoertuig kon daarin slaag om vir die Golf pad te gee, maar die bestuurder van die Mazda was in daardie stadium nog besig om ’n groot vragmotor teen ’n hoogte verby te steek.”

Budhram sê polisiemanne in die vangwa het gesien hoe die Golf, nadat die Mazda uiteindelik by die lorrie verby is en uit die baan kon beweeg, tot langs laasgenoemde gery het.

’n Passasier van die Golf het toe ’n venster afgedraai en met ’n vuurwapen op die Mazda begin skiet.

’n Agterband van die Mazda is papgeskiet.

Die Mazda se bestuurder het daarna beheer oor sy voertuig verloor, oor die middelmannetjie van die besige N3 snelweg beweeg en reg van voor met ’n bakkie wat op pad was Durban toe gebots.

Die Golf het daarna aangery en glo weggejaag toe die polisie in die vangwa dit wou aftrek.

Volgens Budhram is verskeie patroondoppies op die toneel opgetel.

’n Bron na aan die ondersoek sê ’n konstabel Khumalo verbonde aan die polisie se BBP-eenheid is kort daarna by Camperdown in hegtenis geneem.

Khumalo het glo ná sy inhegtenisnemings vir die polisie gesê hy was laat vir ’n afspraak met mnr. Meshack Radebe, LUR vir maatskaplike dienste.

Na verneem word het verskeie ANC-politici gistermiddag glo probeer keer dat Khumalo vasgetrek word.

Budhram het by navraag egter bevestig dat komm. Hamilton Ngidi, polisiehoof van KwaZulu-Natal, persoonlik beveel het dat Khumalo in hegtenis geneem word.

Drie mans in die Mazda en vyf in die bakkie is ernstig in die ongeluk beseer en na hospitale in die omgewing geneem.

• Sedert verlede jaar was BBP-voertuie en -konvooie in talle soortgelyke omstrede voorvalle in KwaZulu-Natal betrokke.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2427003,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.